Nuus 08:00
BULLETIN 8 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die land se forensiese patologie-eenhede is steeds ’n mislukking
# Haglike weerstoestande eis vier slagoffers in KwaZulu-Natal
# En Israel onttrek sy troepe uit die suide van Gaza
# Die DA sê die Departement van Gesondheid het sy verantwoordelikheid versuim om die nakoming van regulatoriese standaarde te verseker. Die party sê slegs 53-persent van die land se 117 patologie-eenhede het sertifikate van bevoegdheid ontvang, weens swak en gebrekkige infrastruktuur sowel as ongesonde en onveilige toestande. Michele Clarke van die DA sê ontoereikende forensiese eenhede belemmer die Polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag om vinnig kriminele ondersoeke te doen en geregtigheid te verseker in sake insluitend moord en verkragting:
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer doen ‘n beroep op padgebruikers om uiters waaksaam te wees te midde van swaar reën oor dele van die provinsie. Vier mense is die naweek dood en nóg elf beseer in afsonderlike motorongelukke weens die swaar reën. Die departement se woordvoerder, Kwanele Ncalane, sê die slagoffers is dood in ‘n botsing tussen ‘n Toyota Tazz en ‘n Toyota Fortuner op die R66 by die Mayiwane-kruising in uLundi:
# Die Israelse weermag sê hy het weens taktiese redes ál sy soldate aan Khan Younis in die suide van Gaza onttrek. Gister was dit ses maande sedert Hamas se 7 Oktober-aanval, waarin sowat eenduisend-200 mense omgekom het. Israel se vergeldingsaanvalle in Gaza het meer as 33-duisend dood gelaat en ‘n ernstige humanitêre krisis ontketen. Die Israelse weermag sê sy missie in Khan Younis is voltooi, maar die oorlog is nie verby nie, en hulle sal voortgaan om Hamas se slaankrag te breek waar hulle ookal is.
# Krieket: Die Lucknow Super Giants het ‘n gemaklike oorwinning van 33 lopies behaal oor die Gujarat Titans in hul Indiese Premierliga-kragmeting. Marcus Stoinis het 58 van 43 balle aangeteken toe hy die Super Giants gehelp het om 163 vir vyf te behaal in hul 20 boulbeurte. In antwoord hierop het Yash Thakur die eerste vyf-paaltjie-oes in vanjaar se kompetisie aangeteken, en die Gujarat Titans vir 130 uitgeboul. Intussen het die Mumbai Indians hul eerste oorwinning in vanjaar se IPL behaal deur die Delhi Capitals met 29 lopies te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-393-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-67-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Stad Kaapstad vra skenkings vir inwoners wat skade gely het weens die gure weer en onlangse brande in die gebied. Swaar reën en sterk wind het skade aan huise veroorsaak en brandweerpersoneel het gespook om brande in onder meer Vishoek en Glencairn te blus. Die metroraad sê skenkings kan regstreeks afgelewer word aan bystandsorganisasies, die rampbestuurskantore in Goodwood of Sir Lowry’s-pas se brandweerstasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….