Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig, die Deense logistieke maatskappy, AP Moller-Maersk betwis die wettigheid van die kontrak wat Transnet aan International Container Terminal Services toegeken het, om die Durbanse vraghouerterminaal op hawehoof 2 te ontwikkel. Die maatskappy sê sy aanbod was beter.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die storm wat die Wes-Kaap teister. Die koerant berig oor talle skole wat vandag gesluit is en die geboue by Blaauwklippen wat afgebrand het.
En tweedens skryf die koerant oor Affies se naelskraap-oorwinning oor die Hoërskool Garsfontein. Die eindtelling was 33-31.
# The Star en Pretoria News:
Skryf, opposisiepartye is besig om ‘n front teen die ANC te vorm.
En berig oor ‘n metro-polisiebeampte wat doodgeskiet is in ‘n geskil met die polisie.
# Sowetan:
Berig, die minister van Polisie Bheki Cele is van mening dat die polisie op koers is om die stryd teen misdaad te wen. Kenners is dit egter eens, dat die regering ver is van ‘n deurbraak teen misdaad.
# En The Citizen:
Skryf, Cele probeer die gewelddadige optrede van die polisie teen misdadigers regverdig, maar kenners sê die gebruik van geweld is nié effektiewe misdaadbekamping nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die stormweer in die Wes-Kaap. Die koerant skryf ook oor wydverspreide reën oor die Vrystaat en Noord-Kaap, en waarsku dat oorstromings ook in dié provinsies kan voorkom.
En tweedens word berig, die aanwysing van Matjhabeng in Welkom as die tweede swakste munisipaliteit in die land, is volgens die DA geen verrassing nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan die stormweer in die Wes-Kaap. Die koerant berig, met foto’s, oor die wydverspreide skade wat reeds aangerig is en waarsku dat die omstandighede tot môre kan voortduur.
# En Cape Times:
Berig ook oor die Kaap van storms.
En skryf tweedens ook oor Cele se stelling dat die polisie wen teen misdaad.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die moord op twee broers van Nelson Mandelabaai, Kyle en Aaron Alberts, wat deur ‘n advertensie op Facebook in ‘n lokval in Motherwell gelei en doodgeskiet en beroof is.
En tweedens skryf die koerant, die direkteur van Google in Suid-Afrika en voormalige Rhodes-student, dr Alistair Mokoena gebruik sy eie spaargeld om studente te help wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente in die steek gelaat word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf, alles word in die stryd gewerp om die beskuldigdes in die AKA-moordsaak aan die pen te laat ry.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig, drie Namibiese landbou-unies het ’n dringende beroep gedoen op president Nangolo Mbumba om die droogte van 2024 tot ’n nasionale ramptoestand te verklaar.
En tweedens is daar nuus oor die plaaslike musikant en sanger, Vaughn Ahrens, wat sê hy is gereed om sy kreatiwiteit en musiekvernuf aan te wend om Afrikaanse musiek te skep.