Nuus 06:00
BULLETIN 8 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse premier sê die topprioriteit is om lewens te beskerm
# Beurtkrag is steeds opgeskort
# En rugby: Die Sharks het deurgedring na die Europese Uitdaagbeker-kwarteindronde
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde sê alle rampbestuur- en nooddienste is op hoë gereedheidsgrondslag geplaas. Dit is vanweë die Suid-Afrikaanse Weerdiens se vlak nege-waarskuwing oor skadelike wind en reën in baie dele van die provinsie. Stormwind het reeds verskeie gebiede getref en brande laat opvlam, veral in die Kaapse Wynlande. Die meeste hiervan is onder beheer. Winde sê die topprioriteit in hierdie stadium is die beskerming van lewens gevolg deur kritieke infrastruktuur en eiendom:
Die Wes-Kaapse regering het intussen besluit om alle openbare skole in die Kaapse Wynland-, Overberg- en Helderberg-gebiede vandag te sluit. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê hulle het reeds berig ontvang van verskeie skole wat die naweek deur stormwind beskadig is, en die departement se infrastruktuurspan kyk na die skade:
# Die minister van Polisie Bheki Cele het die opknapping bevestig van polisiëringseenhede om misdaad doeltreffend te bekamp. Cele beklemtoon ‘n vasberade reaksie op verkeie misdade, veral geweldadige en ernstige oortredings. Hy moedig beamptes aan om die beskerming van hulleself en gemeenskappe sonder huiwering voorop te stel. Cele sê, een-duisend-179 intelligensie-geleide operasies is sedert April 2023 uitgevoer ná weke en maande van ondersoeke en voorbereiding:
# Beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing. Dit bring die aantal opeenvolgende dae sonder onderbrekings op 12 te staan. Dit is die langste tydperk van ononderbroke kragtoevoer sedert die Desember-feestyd. Eskom sê die voortgesette opskorting van beurtkrag is te danke aan volgehoue beskikbare opwekkingsvermoë en voldoende noodreserwes. Die kragvoorsiener sê hy beplan om teen vanaand ‘n totale opwekkingskapasiteit van eenduisend-150 megawatt herstel te hê.
# Nieu-Seeland bring onmiddellike veranderings aan sy werksvisum-program aan, ná byna rekord-migrasie verlede jaar wat hy “onvolhoubaar” noem. Die veranderings sluit in, die instelling van ‘n Engelse taalvereiste vir laaggeskoolde werk en minimum vaardigheid- en werkervaringdrumpels vir die meeste werknemer-werkvisums. Die maksimum deurlopende verblyf vir die meeste laaggeskoolde rolle word ook verminder na drie jaar, van vyf jaar af. Reuters berig volgens ‘n rekeringsverklaring het ‘n naby-rekord 173-duisend mense verlede jaar na Nieu-Seeland migreer.
# Rugby: Die Haaie is deur na die kwarteindronde in die Europese Uitdaagbeker nadat hulle Zebre met 47-drie afgeransel het in hul ronde-van-16-kragmeting in Durban. John Plumtree se span het skoonskip gemaak met sewe drieë en hul hoop versterk om die seisoen met ‘n beker af te sluit. Die Sharks sal Saterdag in Durban, in die kwarteindronde, die gasheer wees vir Edinburgh. As hulle wen, sal hulle óf teen Frankryk se Clermont óf Ierland se Ulster in die halfeindronde uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-723-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….