Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Passasierskip bots met ‘n houerskip in die Kaapstadse hawe
# Tabakvervaardigers daag die Inkomstediens uit oor die nuwe dophoureël
# En, motorsport: Wolff swyg oor gerugte dat Vettel Hamilton kan vervang
# ‘n Passasierskip, die Ambience, van Ambassador Cruise Line, het vanoggend in die Kaapstadse hawe gebots met ‘n houerskip, Grey Fox. Die voorval het gebeur tydens Ambience se geskeduleerde besoek. Sterk wind en deinings het volgens berigte waarskynlik bygedra tot die botsing. Albei skepe is effens beskadig, maar niemand is beseer nie en daar was geen besoedeling nie. Ambience het veilig vasgemeer en sal na verwagting vanaand vertrek met een-duisend-400 passassiers aan boord. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
# Tabakvervaardigers daag die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in die hof uit oor nuwe reëls wat geslotebaan televisie in pakhuise vereis om belastingverlies te keer. Die Fair-Trade Independent Tobacco Association meen die reël skend privaatheidsregte en is arbitrêr, en vra die hersiening en kansellering daarvan. Die Inkomstediens verdedig die maatreël as noodsaaklik om onwettige tabakhandel teen te werk, terwyl die vereniging alternatiewe tegnologie voorstel vir voldoening. Die hofsaak is vir 15 April geskeduleer.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het telefoonlyne by gesondheidsinstellings suksesvol herstel na onlangse onderbrekings. Carletonville se Distrikshospitaal is die uitsondering weens gesteelde koperdrade en Telkom sal in die komende week koordlose lyne installeer. Alternatiewe kontaknommers is op die provinsiale regering se webblad beskikbaar vir kommunnikasie met die spesifieke hospitaal. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, het bevestig die migrasieprojek gaan voort om alle gesondheidsinstellings by die provinsiale stemnetwerk in te skakel:
# Botswana se regering het ‘n rampfonds gestig om gesinne by te staan wat geraak word deur massarampe. Dit volg nadat 45 mense dood is toe die bus waarin hulle gereis het tussen Mokopane en Marken in Limpopo van ʼn brug in ʼn kloof afgestort het. Die bus het oor die Paasnaweek mense van Botswana na ʼn pelgrimsbyeenkoms by Moria naby Polokwane vervoer. President Mokgweetsi Masisi het onderneem om te verseker gesinne wat geraak word, ontvang die nodige bystand:
# Motorsport: Die uitvoerende hoof van Mercedes se Formule Een-span sê Sebastian Vettel kan nooit buite rekening gelaat word nie. Toto Wolff het gereageer op gerugte dat die Duitser die Brit Lewis Hamilton kan vervang wanneer hy die einde van die seisoen na Ferrari verskuif. Vettel het vier agtereenvolgende kampioenskappe vir Red Bull gewen, en ook vir Ferrari en Aston Martin gejaag voor hy in 2022 uitgetree het. Wolff en Vettel het vroeër die week samesprekings gevoer. Wolff benadruk sy span het nog nie Hamilton se opvolger gekies nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-902-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-294-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….