Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeredding is aan die gang by die Suid-Afrikaanse Poskantoor
# Die EFF in Tshwane vra ‘n verslag oor die onderburgemeester moet vrygestel word
# En, motorsport: Wolff swyg oor gerugte dat Vettel Hamilton kan vervang
# Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het bekendgemaak die voortgesette sakereddingsproses by die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal daartoe lei dat net meer as 600 takke behoue bly. Minister Mondli Gungubele het aangedui 235 Poskantore gaan landwyd sluit. Vier-duisend-700 afleggingsbriewe is reeds uitgestuur, met sakereddingspraktisyns wat bykomende regeringsbefondsing vir afleggingspakkette aanvra. Gungubele sê hy vertrou die reddingsproses:
# Die EFF in Tshwane het die stadsraad se speaker en die stadsbestuurder versoek om die ondersoekverslag vry te stel oor die onderburgemeester, Nasiphi Moya, se vermeende finansiële wangedrag. Sy het tydens haar vorige ampstermyn as personeelhoof in die burgemeester se kantoor in 2020 ‘n amptelike internasionale reis verpas en nie die reistoelaag teruggegee wat aan haar uitbetaal is nie. Die EFF sê Moya se verantwoordelikhede, wat toesig oor kapitaalprojekte insluit, noodsaak haar integriteit en aanspreeklikheid.
# Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, sal leiers van georganiseerde landbou, betrokke departemente en LUR’e van alle provinsies ontmoet om die erns van die El Nino-verwante droogte te bepaal. Die Oesskattingskomitee se jongste vooruitskatting toon dat Suid-Afrika se 2023/24 somergraan- en oliesadeproduksie op ‘n jaargrondslag met 21 persent kan daal tot 15,2 miljoen ton. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die minister sal ook die uitwerking evalueer op oes-opbrengste en die finansiële status van boere:
# Motorsport: Die uitvoerende hoof van Mercedes se Formule Een-span sê Sebastian Vettel kan nooit buite rekening gelaat word nie. Toto Wolff het gereageer op gerugte dat die Duitser die Brit Lewis Hamilton kan vervang wanneer hy die einde van die seisoen na Ferrari verskuif. Vettel het vier agtereenvolgende kampioenskappe vir Red Bull gewen, en ook vir Ferrari en Aston Martin gejaag voor hy in 2022 uitgetree het. Wolff en Vettel het vroeër die week samesprekings gevoer. Wolff benadruk sy span het nog nie Hamilton se opvolger gekies nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-950-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-287-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad se Brand- en Reddingsdiens het 45-duisend-rand aan die Rooikruis-kinderhospitaal geskenk. Die geld gaan na die hospitaal se trust vir brandwonde, wat die derde grootste oorsaak van sterftes onder kinders is. Die gespesialiseerde saal vir brandslagoffers behandel jaarliks sowat 900 kinders. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê brandbestryders plaas nie net hul lewe op die spel nie – hul passie strek verder as hul taak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….