Nuus 08:00
BULLETIN 5 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# David Mabuza weerlê gerugte dat hy by die MK-party gaan aansluit
# Numsa vra die hof om sy staking by die Padongeluksfonds wettig te verklaar
# En tennis: Rafael Nadal onttrek hom aan die Monte Carlo Meesters
# Die voormalige adjunkpresident, David Mabuza, het berigte verwerp dat hy hom sou aansluit by die voormalige president Jacob Zuma se uMkhonto we Sizwe-party. Mabuza beywer hom in aanloop tot die 29 Mei-verkiesing vir die ANC. In ’n verklaring sê hy die vals gerugte is ’n poging om die vordering wat die ANC gemaak het te ondermyn. Mabuza het sy onwrikbare verbintenis tot die regerende party herbevestig en sê die verkiesing sal die vertroue van die mense in die ANC se vermoë om positiewe verandering te bring, duidelik uitwys.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa het die Arbeidshof versoek om sy protesaksie by die Padongeluksfonds wettig te verklaar. Numsa het gereageer op die tussentydse bevel wat verlede maand aan die fonds toegestaan is, om die staking te keer en die beplande optog na die kantoor van die Departement van Vervoer te voorkom. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê, hulle voer in hul hofstukke aan, die fonds se bewerings dat die fonds onder die Maatskaplike Sekerheid-sektor val en nie Vervoer nie, is onwaar:
# Gauteng se departement van Onderwys sê hy is tevrede dat Curro Holdings erns maak met maatskaplike samehorendheid. Curro het onder kritiek deurgeloop ná foto’s van laerskoolleerders waarin ‘n swart kind in ‘n toneel ‘n kassier uitbeeld en wit kinders onder meer veeartse en ander beroepe. Die department se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle het die kwessie voorlopig ondersoek nadat lede van die publiek van mening was dit toon rassistiese ondertone:
# President Joe Biden sê, Amerikaanse steun aan Israel in die toekoms sal afhang van die konkrete stappe wat die land doen om burgerlikes en hulpwerkers te beskerm. Hy het met die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, gepraat in ‘n 30-minute telefoonoproep, ná die dood van sewe World Central Kitchen-personeellede. Die minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê Biden het tydens die oproep beklemtoon die aanslag op humanitêre werkers en die algehele humanitêre toestand is onaanvaarbaar:
# Tennis: Die elfmalige kampioen Rafael Nadal het hom aan die Monte Carlo Meesters onttrek weens ‘n voortdurende besering. Die 37-jarige Spanjaard het in Januarie tydens die Brisbane Meesters uiteindelik weer na die baan teruggekeer nadat hy bykans ‘n jaar op die krukkelys was. Hy het sy heup beseer, wat hom uit die Australiese Ope gehou het. Hy het sedertdien nie weer in ‘n toernooi gespeel nie. Nadal sê sy liggaam is nie gereed vir die baan nie en al wat hy kan doen, is om dit te aanvaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-833-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-276-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….