Nuus 07:00
BULLETIN 5 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Harmony Gold se werkers sal hul jaarlikse salarisverhogings verdeel oor 5 jaar ontvang
# Minister Cele sê die optrede van die polisie in Mariannhill was geregverdig
# En die Palestynse Solidariteit-veldtog dring aan op ‘n ondersoek na Suid-Afrikaners wat na bewering in die Israelse Weermag dien
# Die vakbond Solidariteit verwelkom die vyf-jaar loonooreenkoms wat bereik is met die mynmaatskappy Harmony Gold. Die ooreenkoms, in samewerking met die mynvakbonde, NUM en Amcu, en die metaalwerkersvakbond Numsa, sluit loon- en behuisingstoelae-verhogings in oor die volgende vyf jaar. Dit verseker ook die instelling van ‘n werknemer-aandele-eienaarskapplan binne drie maande. Die algemene sekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, prys die ooreenkoms as ‘n triomf vir kolletiewe bedinging:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy veroordeel onlangse kommentaar deur die ekonoom, Dawie Roodt, ten sterkste, wat daarop sinspeel dat die land se staatsamptenare te veel betaal word en swak diens lewer. Roodt se kommentaar het gekom ná die aankondiging dat staatsamptenare ‘n 4,7-persent salarisverhoging kry van die eerste van dié maand af. Die PSA sê salarisverhogings vir die 2023/2024-boekjaar kon nie tred hou met inflasie nie, wat die finansiële druk op staatsamptenare vererger het. Die vereniging hou vol dat staatsamptenare onderwaardeer word en oorwerk is.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê die optrede van polisielede in Desia, Mariannhill, wes van Durban, was geregverdig omdat inwoners lank reeds onder geweldsmisdade deurloop. Nege vermeende bendelede is Woensdag in die vroeë oggendure dood in ‘n skietgeveg met die polisie. Die verdagtes word verbind met verskeie voorvalle van misdaad in die gemeenskap, insluitend 23 huisrooftogte, moord en verkragting. Cele sê die polisie teiken nie misdadigers om hulle dood te maak nie.
# Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys sê hy staar ‘n tekort van 870-miljoen-rand in die gesig vir die 2024/2025-boekjaar, weens die groot nasionale begrotingsbesnoeiings. Dit het daartoe gelei dat die departement gedwing is om streng kostebeperkings-maatreëls in te stel. Die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, sê die tekort moet nou geabsorbeer word om verhogingskostes in die nasionaal-onderhandelde openbare sektor loonooreenkoms te dek:
# Die Palestynse Solidariteit-veldtog het ‘n klagte by die polisie gelê en die Nasionale Vervolgingsgesag ingelig oor ‘n Suid-Afrikaner wat na bewering in die Israeliese Besettingsmag dien. Die klaer, Usuf Chikte, noem moontlike oortredings van die Statuut van Rome en die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand. Hy dring aan op ‘n onmiddellike ondersoek, vervolging en uitlewering van individue wat betrek word, en diegene wat in konflikte dien wat nie deur Suid-Afrika ondersteun word nie:
# Tennis: Saoedi-Arabië sal die volgende drie jaar die einde van die seisoen-toernooi vir die professionele vroue-kompetisie aanbied. Die wêreld se top agt enkelspelspelers en dubbelspel-spanne neem deel aan die WTA-eindstryd, wat vanjaar van 2 tot 9 November in die hoofstad Riaad aangebied word. Die prysgeld is met 70-persent opgestoot na 284-miljoen-rand. Die voorsitter van die WTA Steve Simon sê hulle vennootskap met die koninkryk kan bou aan die spel se blootstelling aan ‘n mark en ‘n streek met ‘n vinnig-groeiende uitwerking op die sportbedryf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-57-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-272-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….