Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Blitsbokke en die ander elf spanne kan die naweek ‘n volgepakte Hongkong-stadion verwag vir die Chinese gebied se wêreldreekstoernooi. Wêreldrugby sê al 120-duisend kaartjies vir die drie-daagse byeenkoms is verkoop. Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Ierland, Samoa en Spanje. Die Blitsbokke, met die voormalige seweskaptein Philip Snyman as nuwe hoofafrigter, hoop om te verbeter op hulle sewende plek op die punteleer. Hulle het die openingtoernooi in Dubai gewen, maar in die volgende vier toernooie teleurgestel.
# Krieket: Sri Lanka se vrouespan het Suid-Afrika met vier paaltjies verslaan in die derde en laaste T20 Internasionaal in Oos-Londen, en die reeks twee-een gewen. Dit is hul eerste reeks-triomf oor die Proteas in enige formaat. Die Speler van die Reeks, Laura Wolvaardt, het 56 behaal, met Suid-Afrika wat 155 vir ses aangeteken het in hul 20 boulbeurte. Sri Lanka se kaptein, Chamari Athapathtu, het daarna die beste telling van 73 aangeteken en die besoekers het hul hoogste suksesvolle lopiejaagtog tot nóg toe in T20 behaal, toe hulle op 156 vir ses geëindig het.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Simona Halep, is ‘n promotorskeuse vir die Madridse Ope wat op 22 April begin. Die Roemeen het verlede maand in die Miami Ope haar eerste wedstryd gespeel sedert die Hof van Arbitrasie vir Sport haar boete van vier jaar vir opkikker-oortredings verminder het tot nege maande. Caroline Wozniacki van Denemarke, Kei Nishikori van Japan, en die Spanjaard, Martín Landaluce, is ook promotorskeuses vir die kleibaantoernooi.
Nog nuus oor die sport is dat die elfmalige kampioen, Rafael Nadal, se naam op die lys is van die Monte Carlo-meesters, maar met hardkoppige gerugte dat ‘n nuwe besering die Spanjaard uit die toernooi kan hou. Hy het nie mededingend gespeel sedert die Brisbane-ope in Januarie nie en moes verlede maand onttrek aan die Indian Wells-meesters. Die Monte Carlo-toernooi skop die kleibaanseisoen af, wat afsluit met die Franse Ope wat op die 20ste van volgende maand afslaan in Parys, waar Nadal die rekord hou van 14 titels.
# En, motorsport: Die Duitse jaer Sebastian Vettel word genoem as die moontlike opvolger van Lewis Hamilton by die Formule Een-span Mercedes. Die Brit het vroeër vanjaar aangekondig hy gaan volgende seisoen by Ferrari aansluit, en Mercedes het nog nie ‘n nuwe renjaer aangekondig nie. Die 36-jarige Vettel het na die 2022-seisoen uitgetree na vier agtereenvolgende titels vir Red Bull van 2010 tot 2013, en het ook gejaag vir Ferrari en Aston Martin. Hy het volgens berigte geskimp oor ‘n moontlike terugkeer na onlangse samesprekings met Mercedes se uitvoerende hoof, Toto Wolff.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….