Nuus 09:00
BULLETIN 4 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula gaan haar aan die polisie oorgee
# Oekraïne verlaag die militêre mobiliseringsouderdom om meer soldate vir die Russiese oorlog te werf
# En sokker: Mamelodi Sundowns is nader aan die verowering van die Premierskap-titel
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion aangekom om haarself oor te gee. Sy het gister bedank nadat die Hooggeregshof in Pretoria vroeër die week haar dringende appèl, om haar inhegtenisneming op aanklagte van korrupsie te voorkom, van die hand gewys het. Mapisa-Nqakula het tydens haar ampstermyn as minister van Verdediging na bewering minstens 2,3-miljoen-rand aan omkoopgeld en gunslone van ‘n verdedigingskontrakteur ontvang. Sy het die bewerings ontken.
Die GOOD Party sê intussen die wiele van geregtigheid moet nou begin draai, hetsy om te bepaal of Mapisa-Nqakula skuldig is, óf om haar vry te spreek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê ‘n parlementêre stem vir haar verwydering, waar die ANC sy meerderheid sou gebruik om haar te beskerm, sou onsmaaklik gewees het:
# ELF-SA se president, Hulisani Mani, sal by politieke partye aansluit om die gedragskode vir die komende algemene verkiesing te onderteken. Die kode, onder toesig van die Verkiesingskommissie, dring aan partye moet by verkiesingsreëls hou. Die party sê in ‘n verklaring sy verbintenis het ten doel om verdraagsaamheid te bevorder en regverdige mededinging tussen alle partye te handhaaf.
# Oekraïne het die land se militêre mobiliseringsouderdom verlaag van 27 tot 25 om meer soldate te kry vir die oorlog teen Rusland. President Volodymyr Zelensky het die wet onderteken nadat vrywilligergetalle gedaal het. Hy het in Desember aangekondig Oekraïne het nog ‘n half-miljoen soldate nodig om Moskou se aanslag af te weer. BBC News berig Zelensky het in Februarie gesê 31-duisend Oekrainse soldate het reeds gesneuwel, terwyl Amerikaanse amptenare die aantal op minstens 70-duisend stel, met tot 120-duisend gewond.
# Sokker: Mamelodi Sundowns is nader aan die verowering van nóg ‘n Premierliga-titel nadat hulle die relegasie-bedreigde Richardsbaai een-nul op Loftus Versfeld verslaan het. Junior Mendieta het die enigste doel in die wedstryd aangeteken om al drie punte vir die Brazilians te verseker en hulle elf punte voor Stellenbosch FC te plaas. Hulle is in die tweede posisie, nadat hulle Kaizer Chiefs een-nul geklop het. Sundowns se afrigter, Rulani Mokwena, sê hy is tevrede met sy span se vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-182-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-300-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….