Nuus 18:00
BULLETIN 3 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC word skuldig bevind aan minagting van die hof vir die weerhouding van sy kaderontplooiings-rekords
# Die Belasting-instituut versoek die Inkomstediens om korrupsie uit te wis
# En, sokker: Dis ‘n taai stryd bo-aan die Premierskap-punteleer met Man City en Arsenal vanaand in aksie
# Die DA verwelkom ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg, wat die ANC en sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, skuldig bevind aan minagting van die hof. Dit volg nadat die ANC nie die rekords van sy kaderontplooiings-komitee bekend gemaak het nie. Dit dateer terug na 2013 toe president Cyril Ramaphosa die voorsitter was. Die hof het die ANC beveel om die DA se koste te betaal en die inligting binne 15 dae te verskaf. Leon Schreiber van die DA moedig Ramaphosa aan om by die uitspraak te hou:
# Die Suid-Afrikaanse Belasting-instituut vra die Inkomstediens om korrupsie aan te pak, met die klem op die belangrikheid van die bekamping van bedrieglike bedrywighede. Dit volg ná die diens aangekondig het hy het sy voorlopige inkomsteteiken met byna 10-miljard-rand oorskry. Die bruto belastinginkomste wat vir die 2023/24-boekjaar ingevorder is, het 2,15-duisend-miljard-rand bereik. Die instituut se uitvoerende hoof, Keith Engel, neem kennis van die uitdagings met die vervolging van korrupte individue en beklemtoon die noodsaaklikheid van voortgesette pogings om korrupsie te beveg.
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het die suksesvolle herstel van vyf kritieke Metrospoor-dienste regoor Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap aangekondig. Dienste wat nou in werking is, sluit in Kaapstad na Stellenbosch, Merebank na Chatsglen, Johannesburg na Florida, Johannesburg na Nancefield, en Germiston na Elsburg. Prasa se woordvoerder, Andiswa Makanda, sê met 31 van 40 lyne wat gedeeltelik in werking is, gaan pogings voort om die diens ten volle te laat funksioneer. Makanda sê dit sal opsetlike beskadiging voorkom, met ‘n verbintenis tot doeltreffende openbare vervoer:
# Israel se naaste bondgenote veroordeel die dood van sewe hulpverlenings-werkers wat Maandag in lugaanvalle in Gaza dood is. Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê die sterftes is tragies en Israel doen nie genoeg om burgerlikes te beskerm nie. Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, het aan sy Israelse ampsgenoot, Benjamin Netanyahu, gesê hy is geskok oor die aanval en eis ‘n deursigtige ondersoek. Israel se militêre hoof, luitenant-generaal Herzi Halevi, sê die aanval was ‘n fout weens verkeerde identifikasie. Netanyahu het erken dit was ‘n onopsetlike aanval op onskuldige mense.
# Sokker: Dis ‘n taai stryd bo-aan die Engelse Premierskapsliga, met net drie punte tussen die top drie spanne. Liverpool is twee punte voor Arsenal, met Manchester City een punt agter hulle. Arsenal speel vanaand teen Luton, en Man City kan ‘n moeilike stryd te wagte wees teen Aston Villa, wat vierde op die punteleer is en veg om ‘n plek in die Kampioeneliga. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê hulle kan nie bekostig om punte af te staan nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-805-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-279-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….