Goeie Nuus
BULLETIN 3 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Ses jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat hul vernuwende navorsingsprojekte op internasionale wetenskapskoue in Tunisië en Beijing aangebied het, het almal medaljes verower in hul onderskeie kategorieë. Keerthana Kishor Nair het goud gewen en Alexia Hilton Smedmor silwer, op die Internasionale Fees vir Ingenieurswese, Wetenskap en Tegnologie in Tunisië. Eskom Expo se uitvoerende hoof, Parthy Chetty, sê Steffan Thielen en Rohan van Loggerenberg albei goue medaljes gewen in die Beijingse Jeug-wetenskap-skeppingskompetisie, terwyl Nyakallo Nonjabulo Mbongo en Kiyara Tami Swartbooi silwer medaljes verower het:
# Die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng het 29 ontvangers van die Burgemeester se Studente Finansiële Hulpprogram goedgekeur. Die program is in Januarie van stapel gestuur om hulp te verleen aan diegene wat hoër-onderwyskwalifikasies wil navolg. Die munisipaliteit het 750-duisend-rand vir die program bewillig om studente met klasgelde, registrasiefooie en ander noodsaaklike studiehulpbronne soos skootrekenaars en boeke te help. Die burgemeester, Peter Teixeira, sê hulle is verbind tot die skepping van geleenthede vir almal – veral jongmense.
# Meer as as twee-duisend-600 studente gaan dié maand hulle grade ontvang tydens die Universiteit van Fort Hare se nege seremonies. Die jongste student is die 20-jarige Owam Ngqondo wat ‘n BA-graad in Landbou voltooi het. Die 68-jarige Pumelelo Vani, wat ‘n nagraadse diploma in Hoër Onderwys en Opleiding verwerf het, is die oudste gegradueerde. Die universiteit sê die gradeplegtighede is ‘n weerspieëling van die instelling se verbintenis tot uitnemendheid.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het Tshwane FM X-Tra bekend gestel wat ontwerp is om digitale inhoud te verskaf wat by die unieke voorkeure van luisteraars pas. Dit is deel van die universiteit se radiostasie Tshwane FM 93.6. Die stasiebestuurder, Tebogo Magubane, sê Tshwane FM X-Tra is ‘n vernuwende platform wat digitale uitsendings gaan verander en aan die toenemende eise van sy luisteraars voldoen:
# En, die Stad Kaapstad se befondsingsvennootskappe met hoëgroei-bedryfsorganisasies het oor die afgelope drie en ’n half jaar 25,4-miljard-rand se beleggings geskep. Dit het 32-duisend-300 werksgeleenthede tot gevolg gehad. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê in die stad se nuwe 2024/25-begroting oormerk hulle meer as 64-miljoen-rand ter ondersteuning aan vennootorganisasies in hoëgroeibedrywe, insluitend oproepsentrums, toerisme, vervaardiging en die groen ekonomie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….