Nuus 12:00
BULLETIN 3 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SANW verwerp berigte oor soldate wat in die DRK gevange geneem is
# Die Padongelukkefonds meld ‘n skerp toename in bedrogsake aan
# En, krieket: Die Protea-vroue pak Sri Lanka vanaand in die beslissende T20
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het ten sterkste ontken dat twee van sy soldate wat in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is, hulleself aan die M23-rebelle sou oorgegee het. Die ontplooiing is deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sending. Volgens National Security News is die soldate verlede week deur M23-rebelle gevange geneem. Weermag-woordvoerder Siphiwe Dlamini sê rekenskap is gegee van al die soldate wat in die DRK ontplooi is:
# Die Padongelukkefonds sê daar is ‘n skerp toename in bedrogsake. Byna ‘n duisend gevalle van bedrog is tydens die 2023/24-boekjaar aangemeld. Die fonds se woordvoerder, McIntosh Polela, sê daar is ‘n hoë voorkoms van regslui wat met eisers saamspan of die fonds regstreeks bedrieg:
# ‘n Voormalige hoof van die Verenigde Nasies se klimaatsagentskap is bekommerd die wêreld se klimaatsdoelstellings sal in gevaar wees as die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, later vanjaar die verkiesing sou wen. Hy het aangedui hy sal president Joe Biden se Inflasieverminderingswet ophef, uit die Paryse Ooreenkoms onttrek en die ontginning van olie en gas verder aanmoedig. Patricia Espinosa sê Trump se teenkanting teen klimaatsoptrede sal wêreldwyd ‘n groot uitwerking hê. Amerika is die wêreld se naasgrootste vrysteller van kweekhuisgasse en die grootste uitvoerder van olie en gas.
# Krieket: Die T20-reeks tussen die Protea-vroue en Sri Lanka word vanaand op Buffalo-park in Oos-Londen beslis. Die Proteas het die openingswedstryd in Benoni met 79 lopies gewen, waarna die besoekers die reeks gelykop gemaak het met ‘n indrukwekkende oorwinning met sewe paaltjies in Potchefstroom. Die snelbouler Tumi Sekhukhune sê die Proteas moet hulle tuisreeks wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-263-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-271-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Meer wild- en plantspesies sal beskerm word as gevolg van uitbreidingsplanne by vier van Suid-Afrika se nasionale parke. Die Namaqua Nasionale Park en die Mokala Nasionale Park in die Noord-Kaap, en die Karoo Nasionale Park en Agulhas Nasionale Park in die Wes-Kaap, is gesamentlik met 20-duisend-206 hektaar uitgebrei. Onder die wild- en plantspesies wat danksy die uitbreiding beskerm sal word, is die inheemse kokerboom, die witrenoster en die kameeldoringboom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….