Nuus 06:00
BULLETIN 3 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party appelleer teen die OVK se besluit om Zuma van die kandidatelys te verwyder
# Die Inkomstediens rapporteer die invordering van meer as R2,1-duisend-miljard aan belastinginkomste vir die 2023/2024-boekjaar
# En die VSA versoek ‘n vinnige ondersoek na die dood van humanitêre hulpwerkers in Gaza
# Die uMkhonto weSizwe Party het appèl aangeteken in die Verkiesingshof teen die besluit van die Verkiesingskommissie om oudpresident Jacob Zuma van sy kandidatelys te verwyder. Verlede week het die OVK ‘n beswaar gehandhaaf teen Zuma se kandidatuur, wat beteken dat hy gediskwalifiseer word om vir wetgewersetels te staan in die komende algemene verkiesing. Die MK-party het die OVK daarvan beskuldig dat hy nie kragtens die wet optree in die hantering van besware teen benoemde kandidate nie.
Verskeie politieke partye, insluitend die African Christian Democratic Party, die DA en die African Transformation Movement, het president Cyril Ramaphosa intussen gesamentlik versoek om die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede na die Nasionale Vergadering terug te verwys vir heroorweging. Ramaphosa is gevra om die bekragtiging van die wetsontwerp uit te stel hangende verdere hersiening. Die partye voer aan sekere aspekte van die wetsontwerp is ongrondwetlik, veral die uitwerking daarvan op die toekenning van openbare befondsing aan politieke partye, insluitende onafhanklike kandidate. Hulle meen die bepalings van die wetsontwerp hou rampspoedige gevolge in vir kleiner politieke partye.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ‘n bruto belastinginkomste van 2,155-duisend-miljard-rand vir die 2023/24-boekjaar gehad. Die kommissaris van die SAID, Edward Kieswetter, sê hierdie syfer toon ‘n jaar-tot-jaar-groei van 4,2-persent toon teenoor ‘n nominale bruto binnelandse produk van 4,9-persent. Kieswetter sê die netto inkomste, na terugbetalings, was 1,741 duisend-miljard-rand, het die skatting van minister van Finansies, Enoch Godongwana, met tien miljard-rand oortref, ‘n groei van 3,2-persent op ‘n jaargrondslag. Hy is ook bekommerd oor bedrog in die terugbetalingstelsel ondanks aansienlike terugbetalings, insluitend 120-miljard-rand vir klein, medium- en mikro-ondernemings en 37-miljard-rand vir individue:
# Die EFF in Gauteng het die provinsiale regering se plan om 500-duisend indiensopleidingsgeleenthede vir die jeug te skep, aangeval en beskryf dit as ‘n tydelike oplossing. Die kommunikasiebeampte van die EFF in Gauteng, Dumisani Baleni, voer aan korttermynoplossings kan nie chroniese werkloosheid oplos nie. Baleni sê die EFF eis permanente poste met voordele wat pensioen en mediese fonds insluit. Hy het die regering daarvan beskuldig dat hulle opleiding as ‘n politieke taktiek voor die algemene verkiesings gebruik:
# Die VSA doen ‘n beroep op ‘n vinnige en onpartydige ondersoek na die dood van sewe personeellede van World Central Kitchen in Gaza in ‘n Israelse lugaanval. Die hulpwerkers is dood toe hulle ‘n pakhuis in Deir al-Balah verlaat het waar hulle voedselhulp afgelaai het. Die slagoffers sluit in, drie Britse burgers, Australiese, Poolse en Palestynse werkers en ‘n Amerikaans-Kanadese burger. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken sê hulle het regstreeks met die Israeliese regering oor die aanval gepraat:
# Rugby: Die mees ervare All Black van alle tye, Sam Whitelock, tree in Junie aan die einde van die Franse klubseisoen uit. Die veteraan van 153 toetse het na verlede jaar se Wêreldbeker by die Franse Top 14-klub, Pau, aangesluit, nadat sy land in die eindstryd teen Suid-Afrika verloor het. Die 35-jarige het elf titels in die Drienasies en Rugbykampioenskap met Nieu-Seeland gewen en. Hy het die Crusaders in 180 Super-wedstryde verteenwoordig en sewe titels gewen. Die All Blacks beskryf Whitelock as ‘n legende van die spel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-413-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-278-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….