Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker misluk met haar poging om haar inhegtenisneming te stuit
# Die DA in Gauteng sê infrastruktuurfoute moet aandag kry om die waterkrisis te hanteer
# En, swem: Singapoer se Olimpiese goue seun, Joseph Schooling, tree uit
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se poging om haar inhegtenisneming te keer, met koste van die hand gewys. Die hof het die dringende aansoek van die rol geskrap en daarop gewys dat die toestaan van so ‘n bevel die sluise kan oopmaak. Mapisa-Nqakula word ondersoek vir beweerde korrupsie en geldwassery tydens haar termyn as minister van Verdediging en Militêre Veterane. Regter Sulet Potterill het beslis die hof kan nie ‘n inhegtenisneming onregmatig verklaar voordat dit uitgevoer is nie:
# Die Activists and Citizens Forum sê die elektrisiteitsverhoging van 12,74-persent, tesame met die styging in brandstofpryse, sal ‘n verwoestende uitwerking op die reeds sukkelende ekonomie hê. Die forum voorspel meer ondernemings gaan hul deure sluit, met die lewenskoste en onbekostigbare kos wat die armes die ergste sal raak. Die woordvoerder, Dennis Bloem, sê die ANC-regering het heeltemal misluk in sy belofte van 1994 van ‘n beter lewe vir almal. Hy sê in werklikheid raak die lewe net moeiliker onder die huidige regering.
# Die DA in Gauteng sê die enigste volhoubare oplossing vir die voortslepende waterkrisis is om die infrastruktuurfoute op te los wat tot die huidige wateronderbrekings gelei het. Die stad verloor tans 46,1-persent van die water wat hy van Rand Water ontvang weens lekkasies, en verloor 1,7-miljard-rand aan inkomste as gevolg daarvan. Solly Malatsi van die DA sê die begroting vir infrastruktuur-instandhouding is jammerlik onvoldoende, en Johannesburg gaan tans gebuk onder ’n agterstand van 80-miljard-rand:
# Drie mense is dood en een persoon beseer in ‘n sneeustorting by Riffelberg naby die ski-oord Zermatt in die Switserse Alpe. Die owerhede het die afgelope naweek te midde van swaar sneeuneerslae en kragtige stormwind gewaarsku oor ‘n beduidende gevaar vir sneeustortings in die suidelike Switserse Alpe. Dit is steeds onduidelik hoeveel mense nog vermis word. Volgens die Switserse Instituut vir Sneeu- en Sneeu-navorsing het die land dié seisoen reeds 14 sterftes aangeteken in 12 sneeustortings en ongelukke. Die meerderheid van die slagoffers was langafstand-skiërs.
# Swem: Singapoer se enigste Olimpiese gouemedaljewenner, Joseph Schooling, het sy uittrede aangekondig, agt jaar ná sy welslae op die Spele in Rio. Die 28-jarige het in 2016 goud verower in die 100-meter-vlinderslag toe hy teen groot name soos die Amerikaanse ster Michael Phelps geswem het. Schooling sê hy loop oor van dankbaarheid vir elke ervaring wat hy danksy swem kon beleef. Hy sê die oorwinnings was opwindend en die nederlae het hom nederig gemaak, maar saam het dit ‘n veerkragtigheid geskep wat hy met hom saamdra na sy volgende hoofstuk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-458-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-236-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….