Nuus 11:00
BULLETIN 2 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die Parlement om die Tabakwetsontwerp te heroorweeg
# Business Leadership SA is bekommerd oor die jongste Geïntegreerde Hulpbronplan
# En swem: Singapoer se Olimpiese goue seun, Joseph Schooling, tree uit
# Die DA sê hy sal voortgaan om druk op die Parlement te plaas om die Tabak-wetsontwerp te heroorweeg omdat dit die grootste probleem met tabakgebruik miskyk. Die wetsontwerp is gemik op strenger regulasies vir die verkoop en advertering van tradisionele tabakprodukte soos sigarette en sigare. Dion George van die DA sê indien die onwettige handel in tabakprodukte nie uitgewis word deur die beveiliging van die verkrygingsketting van tabakprodukte nie – van produksie tot verkope – sal die wetsontwerp slegs die wettige handel belemmer en nie die gebruik van tabak verminder nie:
# Business Leadership South Africa sê die jongste Geïntegreerde Hulpbronplan is nie doelmatig nie en moet onmiddellik hersien word. Een van die organisasie se bekommernisse is dat die dokument ‘n paar verkeerde kosteberamings bevat, wat die prys van hernubare energie verkeerdelik verhoog en die koste van fossielbrandstowwe daarteenoor verkeerdelik onderskat. Die bestuurshoof, Busisiwe Mavuso, sê die plan is maar een van die voorbeelde van swak beleid, wat ekonomiese groei belemmer en ‘n daling in werkloosheid teenwerk en vertraag.
# Die EFF in die Wes-Kaap eis die onmiddellike verwydering van ‘n DA-raadslid van Knysna, Sharon Sabbagh, omdat sy na bewering verlede week na ‘n raadsvergadering as ‘n aap-sirkus verwys het. Die DA sê Sabbagh se opmerkings is verkeerd vertolk en is skandelik misbruik om kiesers se aandag af te lei van die vernietiging wat die ANC-, PA- en EFF-koalisie in Knysna aangerig het. Die EFF sê Sabbagh se rassistiese gedrag is onaanvaarbaar en kan nie daar gelaat word nie. Die party beoog om ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in te dien.
# Swem: Singapoer se enigste Olimpiese gouemedaljewenner, Joseph Schooling, het sy uittrede aangekondig, agt jaar ná sy welslae op die Spele in Rio. Die 28-jarige het in 2016 goud verower in die 100-meter-vlinderslag toe hy teen groot name soos die Amerikaanse ster Michael Phelps geswem het. Schooling sê hy loop oor van dankbaarheid vir elke ervaring wat hy danksy swem kon beleef. Hy sê die oorwinnings was opwindend en die nederlae het hom nederig gemaak, maar saam het dit ‘n veerkragtigheid geskep wat hy met hom saamdra na sy volgende hoofstuk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-800-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-255-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-25-sent per vat.
# En om mee af te sluit, Taylor Swift, SZA en Ice Spice was van die groot wenners op die iHeartRadio-musiektoekennings in Los Angeles. Swift het ses toekennings gewen, insluitend dié vir Kunstenaar van die Jaar, terwyl SZA vier toekennings gekry het. Die Beste nuwe Popkunstenaar-toekenning het aan Jelly Roll gegaan en Miley Cyrus het die toekenning vir Popliedjie van die Jaar met Flowers gewen. Beyoncé het die Innoveerder-toekenning ontvang en haar aanvaardingstoespraak het gefokus op standvastigheid as noodsaaklike stukrag om ‘n suksesvolle innoveerder te wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….