Nuus 08:00
BULLETIN 2 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê die nuus oor die arrestasie van staatskaping-beskuldigdes is vals
# Die man wat sy vrou tydens ‘n kerkdiens vermoor het, gee homself oor aan die polisie
# En, Trump vermy die beslaglegging op sy bates met sekuriteitstelling in die New York-bedrogsaak
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê ‘n nuusberig wat beweer sy het aangekondig dat staatskaping-beskuldigdes binnekort in hegtenis geneem gaan word, is vals. Die NVG maak geen aankondigings oor arrestasies nie. Batohi is gekritiseer omdat sy nie genoeg gedoen het om diegene, wat betrek word by staatskaping, aan te kla nie. Verlede jaar het die Nulane-saak, wat deur die Ondersoekdirektoraat beskryf word as die bloudruk vir staatskapingsvervolgings, ineengestort toe die voorsittende beampte beslis het die saak kan nie voortgaan nie. Baie hoëprofiel-individue wat deur die Zondo-kommissie betrek word, is nog steeds nie strafregtelik vervolg nie.
# Die African Transformation Movement sê die bekendstelling van ‘n Digitale Nomadevisum-wetsontwerp hou niks goeds in nie omdat dit die universeel-aanvaarde beginsel ondermyn dat die visum slegs bedoel is vir buitelandse burgers wat deur indiensneming en belastingbetalings tot die gasheerland se ekonomie bydra. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê die bekendstelling van die wetsontwerp in Suid-Afrika weerspreek die beginsels van ekonomiese ontwikkeling en die oordrag van vaardighede, wat noodsaaklik is vir volhoubare groei:
# Die polisie in Limpopo het bevestig dat ‘n 54-jarige man, wat voortvlugtig was, nadat hy sy vrou tydens ‘n kerkdiens doodgeskiet het, homself gistermiddag aan die polisie oorgegee het. Die voorval het Saterdagaand by die Makonde-nedersetting plaasgevind. Die Polisie se woordvoerder, Malesela Ledwaba, sê die verdagte sal môre in die hof verskyn:
# Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het sekuriteit van 3,3-miljard-rand in sy New Yorkse siviele bedrogsaak betaal, wat die beslaglegging op sy bates deur staatsowerhede verhoed. Hy moes oorspronklik sowat 8,6-miljard-rand betaal, maar ‘n Appèlhof het beslis dat hy die kleiner bedrag binne tien dae kan betaal. Trump en topbestuurders by sy maatskappy, insluitend sy twee ouer seuns, word daarvan beskuldig dat hulle jare lank banke en versekeraars mislei het deur hul rykdom te oordryf op finansiële state om lenings te verseker en transaksies te doen. Hy ontken skuld.
# Tennis: Die Amerikaanse kwalifiseerder Katie Volynets het die langste vrouewedstryd vanjaar in die eerste ronde van die Charlestonse Ope gewen. Die 22-jarige het Arantxa Rus van Nederland in drie uur en 43 minute 6-2, 6-7, 7-6 oorrompel. Caroline Wozniacki van Denemarke het McCartney Kessler van Amerika met 6-stroop, 6-1 uitgestof. Die Amerikaner Amanda Anisimova het die eerste keer sedert die Australiese Ope gespeel en het Alize Cornet van Frankryk 6-3, 6-stroop geklop. Anisimova sê sy is bly om weer op die speellys te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-951-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-254-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….