Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf, die SAUK is van plan om self, sonder regeringshulp, die mas op te kom oor die volgende vyf jaar. Die uitsaaier se voorsitter, Khathutshelo Ramukumba het aan die Parlement gesê, hoewel die SAUK insolvent is, kán hy self die sowat twee-miljard-rand genereer wat jaarliks nodig is.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met hernude waterprobleme in Johannesburg. Inwoners van Randburg sal vandag sonder water sit terwyl Johannesburg Water herstelwerk doen aan die Honeydew-reservoir.
Dan word berig oor die liedjieskrywer en sanger Jannie du Toit se gastehuis in Melville wat 25 jaar oud is.
En laastens is daar nuus oor ‘n oud-musiekonderwyseres, die 82-jarige Erika Theron, vroeër van Bloemfontein, wat dood is nadat sy aan biefstuk gestik het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf, oudpresident Jacob Zuma van die MK-party loop met ‘n teiken op sy rug rond.
En, berig ook oor duisende beskuldigdes wat nie borgtog kan bekostig nie.
# Sowetan:
Berig oor die polisie se deurbraak met die inhegtenisneming, landswyd, van 15 werknemers van die Universiteit van Fort Hare. Ván hulle het na bewering kwalifikasies vervals en een het glo selfs ‘n huis gebou op universteitskoste.
# En The Citizen:
Skryf, meer as ‘n duisend inwoners van Boksburg aan die Oos-Rand het gister betoog en gedreig om munisipale tariewe te boikot indien hulle water- en kragvoorsiening nie herstel word nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die dood van Erika Theron. Sy is in ‘n George-hospitaal dood nadat sy aan ‘n stukkie biefstuk gestik het. Haar seun, Kowie het probeer om die Heimlich-maneuver toe te pas.
Dan word berig, ‘n 17-jarige matriekleerder van die Hoërskool Goudveld in Welkom, Kobus van Zyl, is in ‘n ongeluk dood, op ‘n plaas in die Kathu-distrik in die Noord-Kaap.
En laastens skryf die koerant oor die balansfonds-heffing wat die petrolprys tot bokant 25-rand per liter stoot.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die dood van die negejarige Marly-Anne Boks, wat op ‘n plaas naby Aurora in die Swartland onder ‘n trekker beland het.
Dan skryf die koerant oor die blinde 12-jarige spanjoel, Bella van Pretoria wat ‘n menslike oog-implantaat ontvang het en weer kan sien.
En laastens is daar nuus oor die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis se Aprilgek-grap dat Suikerbos-heuwel platgestoot gaan word.
# En Cape Times:
Skryf, nóg ‘n sogenaamde “doodskip” met diere aan boord het in Suid-Afrika vasgemeer.
En berig, gemeenskapsleiers sê Eskom se tariefverhogings is ‘n oorlog teen armes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig, die moord op die bekende Motherwell-sakeman, Philasande Jakavula het skokgolwe deur Nelson Mandelabaai gestuur. Sy moord was een van ses die afgelope naweek van bloedvergieting.
En tweedens skryf die koerant, ’n voorstel om die aantal departemente in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit te verminder, is met gemengde gevoelens deur die koalisievennote in die raad ontvang.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf, beweerde korrupsie is blootgelê by die Brettenwood-kuslandgoed aan die Noordkus.
En berig, daar is ‘n beroep gedoen dat lyfwagte vir munisipale bestuurders aangestel word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig, goeie reënneersale die afgelope naweek het die hoop laat opvlam vir ‘n styging in Namibië se damvlakke.
En tweedens skryf die koerant, ’n bykomende 512 klaskamers gaan by bestaande skole die 14 streke van Namibië gebou word.