Nuus 07:00
BULLETIN 2 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kiviet sê staatsdiensamptenare sal hul pligte uitvoer ongeag wie regeer
# Tshwane teken meer sterftes gedurende dié Paastyd aan as verlede jaar
# En ActionSA sê dringende gesondheidsorghervorming word vereis aangesien die regering miljoene aan eise betaal
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, sê die groter staatsdiens sal onaangeraak bly, indien ‘n heeltemal nuwe regering ná die algemene verkiesing van 29 Mei aan bewind sou kom. Sy het op ’n geskrewe parlementêre vraag van die DA gereageer. Die party het gevra watter stappe Kiviet se departement gedoen het om die staatsadministrasie voor te berei op ‘n gladde oordrag van politieke mag aan moontlik nuwe nasionale en provinsiale koalisieregerings. Die minister sê die staatsadministrasie sal beskerm word teen politieke inmenging en misbruik.
# Die DA sê Argentinië het Suid-Afrika ook voorgespring om die 21ste eeu en globale verbinding tot voordeel van sy burgers aan te gryp. Die land se toegang tot Space X se Starlink-internetverbinding is onlangs deur die Suid-Afrikaans-gebore Elon Musk op X aangekondig. Die DA sê ondanks lande regoor die wêreld wat toustaan om toegang tot Starlink te kry, bly die ANC onversetlik om Suid-Afrika in die steentydperk te hou. ‘n Woordvoerder van die DA, Natasha Mazzone, sê die ANC verkies totale beheer eerder as om te aanvaar die digitale era is ook beskikbaar vir Suid-Afrika:
# Die Nooddienste-departement van Tshwane sê minder voorvalle is gedurende die Paastyd vanjaar in die metro aangemeld as verlede jaar, maar die aantal slagoffers het gestyg. Tussen die 29ste van verlede maand en gister is 13 sterftes in die metro aangeteken vergeleke met drie in dieselfde tydperk verlede jaar. Die departement se woordvoerder, Thabo Mabaso, sê die oorsake van al die ongelukke is nog nie bepaal nie en wetstoepassingsowerhede stel ondersoek in:
# ActionSA in die Wes-Kaap is bekommerd oor die verbysterende 23-miljard-rand wat in die afhandeling van mediese regseise deur gesondheidsdepartemente vermors word veral die meer as 534-miljoen-rand in eise en regskoste in die Wes-Kaap. Angela Sobey van ActionSA, Angela Sobey, sê die feit dat die provinsie meer as 270 mediese regseise teen hom het, bewys dat daar in die afwesigheid van gehalte gesondheidsorg by goeie gesondheidsorgfasiliteite met professionele mediese dienste deur gekwalifiseerde personeel, miljarde rande verkwis word om hierdie eise te dek:
# Sirië se ministerie van Buitelandse Sake het die dodelike aanval op die Iranse konsulaat in die hoofstad Damaskus veroordeel. Ses mense, insluitend ‘n senior-bevelvoerder van die Iranse Rewolusionêre Wag, is in die Israelse aanval dood. Die ministerie sê hy veroordeel ten sterkste dié dodelike terreuraanval op die gebou en die dood van verskeie onskuldige mense in die proses. Israel het die afgelope paar jaar honderde aanvalle op Iranse teikens in Sirië uitgevoer, maar het baie selde aanspreeklikheid aanvaar.
# Krieket: Die Rajasthan Royals het ‘n derde agtereenvolgende oorwinning behaal deur die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga met ses paaltjies te klop in die Wankhede-stadion. Trent Boult en Yuzvendra Chahal het elk drie paaltjies geneem en Mumbai beperk tot 125 vir nege in hul 20 boulbeurte. Riyan Parag het in die Rajasthan Royals se beurt ‘n onoorwonne 54 aangeteken en hulle só na ‘n oorwinning gelei. Vandag kom die Royal Challengers Bengaluru te staan teen die Lucknow Super Giants.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-159-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-248-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….