Nuus 11:00
BULLETIN 1 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Pravin Gordhan moenie belastinggeld aanwend vir ondeurdagte regstappe teen die Parlement nie
# Nog 15 mense is in hegtenis geneem in verband met die moordsaak by Fort Hare
# En, krieket, die Lions en Warriors behaal oorwinnings in die KSA T20-uitdaagreeks
# Die DA sê die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, mag nie belastingbetalers se geld aanwend vir regsaksies teen die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings nie, want hy het verkies om die besonderhede oor die transaksie tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Takatso geheim te hou. ‘n Woordvoerder van die DA, Mimmy Gondwe, het in ʼn vertroulike brief aan die Komitee, gesê Gordhan het gedreig dat indien die komitee die verslag oor beweerde ongerymdhede met die transaksie aanvaar en openbaar maak, die departement die verslag op regshersiening sal neem:
Nog vyftien mense is in hegtenis geneem in verband met die moord- en poging tot moordsake by die Universiteit van Fort Hare. Dit bring die aantal arrestasies in die saak nou op 25 te staan. Die verdagtes is oor die Paasnaweek in verskeie provinsies in hegtenis geneem, insluitend Gauteng, die Oos- en Wes-Kaap asook KwaZulu-Natal. Die vyftien verdagtes staar ‘n rits aanklagte in die gesig wat wissel van bedrog, korrupsie, ontvoering, moord en poging tot moord. Hulle sal na verwagting môre hul eerste hofverskyning in die Dimbaza-landdroshof in die Oos-Kaap maak.
# Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling in Mpumalanga, Vusi Shongwe, doen ‘n beroep op mense wat lang reise onderneem om tydens die rit genoeg te rus. Volgens hom kan uitputting bestuurders se besluite beïnvloed en tot ongelukke lei. Dagvaardings vir uiteenlopende oortredings is sedert Donderdag aan vyf-duisend-248 bestuurders uitgereik. Meer as 130 voertuie is verbied om verder te ry en 119 is deur verkeersbeamptes geskut. Shongwe doen ʼn beroep op wetstoepassingsbeamptes om geen verdraagsaamheid teenoor oortreders te betoon nie en om die wet sonder vrees of guns toe te pas.
# Benjamin Netanyahu onderneem om Hamas te vernietig en om voort te gaan met sy grondoffensief in Rafah terwyl duisende betogers eis hy word verwyder. Die eerste minister het inwoners van Israel Sondag in ʼn toespraak op televisie verseker hy sal alles moontlik doen om seker te maak gyselaars wat deur Hamas ontvoer is, word vrygelaat. Netanyahu sê sy weermag sal burgerlikes uit Rafah verwyder voor die offensief teen die suidelike stad. Verskeie van Israel se bondgenote en humanitêre groepe waarsku ‘n grondoffensief in Rafah sal tot ‘n menslike katastrofe lei.
# En ten slotte krieket, die Lions het Sondag op Bolandpark in die Paarl ʼn oorwinning van nege paaltjies oor die Rocks behaal in hulle wedstryd in die KSA T20-uitdaagreeks. Die Lions het die Rocks tot 116 vir agt beperk nadat die tuisspan die loot gewen en eerste gekolf het. Die Lions het 120 vir een in 17 beurte en twee balle aangeteken. In die ander wedstryd op Bolandpark het die Warriors die Westelike Provinsie met nege paaltjies vermorsel. Die Warriors het in antwoord op die Westelike Provinsie se 142 vir sewe net 16 beurte en drie balle nodig gehad vir ‘n oorwinning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….