Nuus 08:00
BULLETIN 31 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cele ontmoedig eise om sekuriteitsbesonderhede van voormalige presidente bekend te maak
# Paaie in Tshwane eis verskeie lewens
# En, rugby: VRK-seges vir die Stormers en Haaie
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, ontmoedig enige eise aan hom om uitgevra te word oor die sekuriteit van die voormalige president Jacob Zuma. Dit volg na ‘n voorval toe ‘n motor teen Zuma se amptelike gepantserde staatsvoertuig in KwaZulu-Natal gebots het. ‘n Een-en-vyftigjarige beweerde dronk bestuurder is in hegtenis geneem. Cele se woordvoerder, Lirandzu Themba, sê na ‘n deeglike inligtingsessie is die minister tevrede met Zuma se beskerming as ‘n voormalige staatshoof:
# Verskeie padongelukke het lewens geëis en ernstig-beseerde slagoffers is by die Tshwane Nooddienste aangemeld. Drie mense is dood en drie beseer toe twee voertuie in Centurion gebots het. Nog twee mense is beseer toe ‘n bakkie noord van Pretoria omgeslaan het. ‘n Woordvoerder van die Nooddienste, Charles Mabaso, sê in die ernstigste ongeluk is vier tienerseuns dood toe hulle voertuig in die middestad omgeslaan het:
Twee seuns van nege en 17 is ook gistermiddag in Midrand, Gauteng, dood nadat ‘n sportnutsvoertuig op die N1 Suid omgeslaan en teen ‘n ander voertuig gebots het. Emer-G-Med paramedici sê nog vyf mense het minder ernstige beserings opgedoen terwyl drie beseerde kinders deur omstanders na die hospitaal gehaas is.
Die United Democratic Movement doen intussen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om veiligheid en verantwoordelikheid die Paasnaweek eerste te stel. Die naweek het op ‘n tragiese noot begin toe ‘n bus wat van Botswana na Moria in Limpopo vir ‘n Paasbyeenkoms op pad was, tussen Marken en Mokopane van ‘n brug afgestort het en 45 mense is dood. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, pleit by mense om openbare gesondheidsriglyne na te kom en versigtigheid aan die dag te lê:
# Die Biden-administrasie het die afgelope paar dae stilweg die oordrag van miljarde dollars se bomme en vegvliegtuie aan Israel goedgekeur. Dit is ondanks Washington se kommer oor ‘n verwagte militêre offensief in die suide van Gaza wat die lewens van honderd-duisende Palestynse burgerlikes kan bedreig. Volgens die Washington Post is sommige Demokrate van mening die Amerikaanse regering het ‘n verantwoordelikheid om wapens te weerhou, in die afwesigheid van ‘n Israelse belofte om burgerlike ongevalle tydens ‘n beplande operasie in Rafah te beperk.
# En ten slotte: Rugby: Die Stormers het gisteraand in Kaapstad ‘n lae-telling Verenigde Rugby-kampioenskapswedstryd teen Ulster met 13-7 gewen. Die tuisspan het teen rustyd ‘n agterstand van 7-0 gehad maar ‘n drie deur Evan Roos laat in die wedstryd en ‘n strafskop deur Manie Libbok het die wedstryd in hulle guns geswaai. Die Ospreys het in Wallis ‘n 36-21 bonuspunt-oorwinning teen die Leeus behaal. Die Johannesburgse span het nie minder nie as 14 hanteerfoute begaan. En in Durban het die sukkelende Haaie ‘n bietjie momentum begin kry deur Edinburgh met 23-13 te klop. Hulle het die vorige naweek ook Ulster met 22-12 geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….