Nuus 07:00
BULLETIN 30 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf-en-dertig liggame is na ‘n busongeluk opgespoor terwyl die soektog voortduur
# Die Democratic Union Party se leier vra vir sigbare wetstoepassing om padsterftes hok te slaan
# En, rugby: Die Springbok-vrouespan is gereed om Amerika te pak
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Interpol se Nasionale Sentrale Buro het bevestig die 45 passasiers wat in die busongeluk in Limpopo dood is en die een oorlewende minderjarige is almal burgers van Botswana. Slegs 34 liggame is teen gister opgespoor. Van die 34 kon slegs nege uitgeken word. Die oorlewende minderjarige, ‘n agtjarige meisie, ontvang mediese behandeling in ‘n hospitaal. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê owerhede is steeds besig om die toneel te fynkam vir meer liggame:
In nog ‘n padongluk is ‘n baba, ‘n sewe-jarige seun en ‘n vrou gisteraand op die N14 by Rooihuiskraal in Centurion dood. ‘n Man en ‘n vrou is ook beseer toe die bestelwa waarin hulle gereis het die pad verlaat, omgeslaan en teen ‘n muur gebots het. Paramedici van Emer-G-Med sê diegene wat gesterf het is uit die vragkant van die bestelwa geslinger. Die polisie ondersoek die noodlottige ongeluk.
Die leier van die Democratic Union Party, Tonic Manchidi, doen intussen ‘n beroep vir sigbare wetstoepassing op die paaie om padsterftes hierdie Paasnaweek te beperk, ná die busongeluk waarin 45 mense op die R518 by die Mmamatlakala-brug, tussen Marken en Mokopane in Limpopo, dood is. Die bus het passasiers vanaf Botswana na Moria vervoer. Die DUP se sekretaris-generaal, Thapelo Makgale, sê een sterfgeval op die pad is een te veel en die regering moet sy rol speel om te verseker die paaie is veilig vir almal:
# Rugby: Die Springbok-vrouespan se hoofafrigter, Louis Koen, het Aseza Hele by die beginspan vir vanmiddag se toets teen Amerika in Londen ingesluit. Hele vervang Anathi Qolo op nommer agt, terwyl Asiphe Mayaba as regtervleuel terugkeer om Maceala Samboya se plek in te neem. Die span hoop om voort te bou op hulle oorwinning van 15-13 verlede naweek teen Spanje. Die Amerikaanse Eagles is negende op die wêreldranglys en Suid-Afrika 12de.
# En, ten slotte: Die DA-leier, John Steenhuisen wens alle Suid-Afrikaners wat praktiserende Christene is ‘n geseënde Paasfees toe, en ‘n vreedsame Paasfees aan diegene wat na hul onderskeie godsdienstige byeenkomste reis. Steenhuisen sê terwyl Christene byeenkom om Paasfees en die wonderwerk van vrede, hoop en vernuwing te vier, vra hy alle Suid-Afrikaners om te bid vir ‘n vreedsame verkiesing in Mei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….