Nuus 09:00
BULLETIN 29 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa en Vladimir Putin praat oor die Oekraïne-konflik en die Moskou-terreuraanval
# Die president sê werk word gedoen om grensoorgange op mees kritieke pad-deurgange te verbeter
# En Rugby: ‘n Leeus-stut is vir drie weke geskors ná ‘n rooikaart
# President Cyril Ramaphosa en die president van die Russiese Federasie, Vladimir Putin, het gister telefonies gesprek gevoer oor ondermeer bilaterale samewerking, vrede in Oekraïne, en die onlangse terreuraanval in Moskou. Die twee leiers het voortgaande pogings bespreek om ‘n vreedsame einde aan die konflik in Oekraïne te bewerkstellig. Hulle het ook breë areas van bilaterale samewerking tussen die twee lande bespreek. Ramaphosa het verder sy meegevoel met Putin en die mense van Rusland betuig ná die onlangse terreuraanvalle waarin meer as 140 mense dood is.
Intussen sê die president werk word gedoen om grensoorgange op die mees kritieke pad-deurgange te verbeter. Hy was voorsitter van die Nasionale Logistieke Krisiskomitee se vergadering oor die vordering sedert die komitee in Junie verlede jaar gestig is. Ramaphosa sê aansienlike vordering is in die afgelope maande gemaak met die vermindering van verwerkingstye by die belangrikste grensposte. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Transnet se herstelplan toon beduidende vordering:
# Die DA het die aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp veroordeel en beweer dit is nog ‘n aanval voor die verkiesing deur die ANC op die Grondwet. Die DA se adjunkhoofsweep, Annelie Lotriet, beweer die wetsontwerp is ongrondwetlik en bedreig menseregte. Lotriet sê die DA beplan regstappe en beklemtoon hul verbintenis om die wetsontwerp se grondwetlikheid te betwis:
# Rugby: Die Leeus sal vir die volgende drie weke sonder die stut, Asenathi Ntlabakanye, moet klaarkom ná sy rooikaart tydens verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Connacht in Galway. Hy is vroeg in die eerste helfte afgestuur oor ‘n gevaarlike duikslag teen die losvoorspeler, Conor Oliver. Die dissiplinêre komitee het sy skorsing van ses na drie weke verminder nadat hy skuldig gepleit en om verskoning gevra het, en weens sy goeie dissiplinêre rekord. Die Leeus speel môre in Wallis teen die Ospreys.
# En laastens: ‘n Dokter van die Nasionale Gesondheidsdiens in Engeland het homself die gramskap van vele Britte op die hals gehaal na ‘n waarskuwing dat mense nie meer as een Paaseier op ‘n slag moet eet nie. Dokter Andrew Kelso sê ‘n gemiddelde Paaseier bevat byna driekwart van die kalorieë wat ‘n volwassene daagliks nodig het. Hy sê tandbederf, vetsug en tipe 2 diabetes is wêreldwyd aan die toeneem en dis beter om matigheid voor oë te hou. Reaksie op sosialemedia het gewissel van “jy’s nie my ma nie” tot “ek gaan nou dadelik twee eet”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….