Goeie Nuus
BULLETIN 28 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Eskom het die opskorting van beurtkrag oor die Paasnaweek aangekondig. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê opdaterings vir volgende week sal Sondagmiddag verskaf word, en enige ander beduidende veranderings sal betyds deurgegee word:
# Een van Suid-Afrika se grootste jazz-ikone, Abdullah Ibrahim, stel volgende maand sy M7-stigting in Johannesburg bekend. Die musikant wat in Duitsland woon, kom na vyf jaar terug na Suid-Afrika om volgende maand op die 12de en 14de onderskeidelik in Kaapstad en Pretoria op te tree. Dit is deel van sy wêreldtoer wat verlede Sondag in Bergamo, Italië, begin het. Ibrahim sê die stigting getuig van sy toewyding om jong talent te ondersteun en die ryk nalatenskap van Suid-Afrikaanse jazz te bewaar.
# Die Universiteit van Pretoria sê ‘n internasionale interdissiplinêre span navorsers, insluitend Tuks-professor Zodwa Dlamini, is gekies om ʼn Cancer Grand Challenges-toekenning van tot 466-miljoen-rand oor vyf jaar te ontvang. Die doel is om kankerongelykhede aan te pak. Die universiteit sê Cancer Grand Challenges is ʼn wêreldwye befondsingsplatform wat uiteenlopende, internasionale spanne ondersteun om saam te werk en anders te dink oor kanker se grootste uitdagings. Dlamini sê sy voel geëerd om ʼn ware verskil te maak ten opsigte van wêreldwye kankeruitdagings.
# ʼn Gautengse veearts het sy teiken gehaal om drie-duisend bokse paaseiers vir sy liefdadigheidsveldtog in te samel. Dokter Clifford Bull van die Craig View-dierekliniek het die veldtog in 2018 begin en verlede jaar twee-duisend-400 bokse paaseiers ingesamel. Bull sê dit word onder meer afgelewer by kinders met kanker, bejaardes wat dikwels oor die hoof gesien word en inwoners van plakkerskampe en plaaslike woonwaparke. Hy sê hy hoop dit moedig mense aan om hierdie Paasnaweek ʼn bietjie meer te doen vir minderbevoorregtes.
# En, die beroemde deur wat Rose se lewe gered het in die trefferfliek Titanic is opgeveil vir 13,5-miljoen-rand. Die aktrise in die hoofrol, Kate Winslet, het aan die deur vasgeklou nadat die skip gesink het in die rolprent uit 1997, met haar geliefde, Jack, gespeel deur Leonardo DiCaprio, wat stadig in die ysige see verkluim het. Baie mense het intussen gesê die deur was groot genoeg om beide van hulle te red. Die BBC berig die regisseur van Titanic, James Cameron, het onthul hy het tientalle e-posse gekry waarin Rose selfsugtig genoem word, en Jack, ‘n idioot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….