Nuus 14:00
BULLETIN 28 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gespesialiseerde span gaan die nasionale wateruitdagings pak
# Die Presidensie stel ‘n 18-maande vorderingsverslag oor die Energie-aksieplan bekend
# En, ‘n veearts samel drie-duisend bokse paaseiers in vir ‘n liefdadigheidsveldtog
# Die Kabinet het die stigting aangekondig van ‘n gespesialiseerde taakspan wat toegewy is om die dringende wateruitdagings die hoof te bied. Die span, bestaande uit verteenwoordigers van departemente soos Water en Sanitasie, Landbou, en Openbare Werke en Infrastruktuur, sal strategieë uitdink en oplossings vir die land se ingewikkelde waterkwessies instel. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê met waterskaarste wat al dringender word, beklemtoon die stigting van hierdie span die regering se verbintenis om die probleem dadelik aan te pak:
Die Presidensie het intussen ‘n bygewerkte verslag oor die Energie-aksieplan vrygestel, wat toon daar is aansienlike vordering om beurtkrag te beëindig. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die plan het ten doel om die omvang van beurtkrag te verminder en langtermyn energie-sekerheid so vinnig moontlik te bereik deur die verkryging van nuwe opwekkingsvermoë vanaf hernubare energie, gas en batteryberging:
# Vier mense, insluitend ‘n tienermeisie, is dood en minstens vyf mense beseer is mesaanvalle toe ‘n man op verskeie plekke in Rockford in die Amerikaanse deelstaat Illinois toegeslaan het. ‘n Twee-en-twintigjarige verdagte is in hegtenis geneem. Die plaaslike polisie het nog niks oor ‘n moontlike motief gesê nie. Die slagoffers ‘n 15-jarige meisie, ‘n 63-jarige vrou en twee mans van 49- en 22-jaar oud.
# Rugby: Die Wallabie-veteraan Michael Hooper verskuif na sewesrugby in ‘n poging om Australië op die Olimpiese Spele in Parys te verteenwoordig. Die losvoorspeler het in 125 toetse uitgedraf, maar is nie verlede jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekies nie. Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis dat die land nie die uitspeelronde gehaal het nie. Die 32-jarige speler is ingesluit in ʼn groep van 13 spelers wat volgende naweek aan die Hongkongse sewes deelneem. Afrigter John Manetti sê hulle is opgewonde om die ervare Hooper in hulle groep te hê.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-597-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-197-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Gautengse Veearts het sy teiken gehaal om drie-duisend bokse paaseiers vir sy liefdadigheidsveldtog in te samel. Dokter Clifford Bull van die Craig View-dierekliniek het die veldtog in 2018 begin en verlede jaar twee-duisend-400 bokse paaseiers ingesamel. Hy sê dit word onder meer afgelewer by kinders met kanker, bejaardes wat dikwels oor die hoof gesien word en inwoners van plakkerskampe en woonwaparke. Hy hoop dit moedig mense aan om hierdie Paasnaweek ʼn bietjie meer te doen vir minderbevoorregtes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….