Nuus 13:00
BULLETIN 28 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie stel ‘n 18-maande vorderingsverslag oor die Energie-aksieplan bekend
# Die DA vra minister Didiza vir droogteverligting vir boere
# En, rugby: Die Wallabie-veteraan Hooper verskuif na sewes
# Die Presidensie het ‘n bygewerkte verslag oor die Energie-aksieplan vrygestel, wat toon daar is aansienlike vordering om beurtkrag te beëindig. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die plan het ten doel om die omvang van beurtkrag te verminder en langtermyn energie-sekerheid so vinnig moontlik te bereik deur die verkryging van nuwe opwekkingsvermoë vanaf hernubare energie, gas en batteryberging:
# Die DA vra die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, om dringend droogteverligtingshulp te gee aan boere wat geraak word deur El Niño. Die party sê met mielie-oesvooruitskattings wat daal en handelsbeperkinge wat sake verder bemoeilik, staar boere finansiële ineenstorting in die gesig. Hulle eis verligtingspakkette en aansporings vir boere, wat voorbereiding vir die volgende seisoen moontlik sal maak. Noko Masipa van die DA sê die regering moet vinnig optree om boere te steun en voedselsekerheid te beskerm:
# ‘n Stadigbewegende sikloon wat onverwags Madagaskar se kant toe gedraai het, het elf mense se dood veroorsaak toe sterk wind bome omgeruk en strome water deur dorpe laat vloei het. Huise het selfs weggespoel. Sikloon Gamane sou na verwagting slegs naby die eiland in die Indiese Oseaan draai, maar het gister van koers verander en in die noorde die land getref. Ses mense het verdrink en vyf is dood weens huise wat ingetuimel het of vallende bome.
# Rugby: Die Wallabies-veteraan Michael Hooper verskuif na sewesrugby in ‘n poging om Australië op die Olimpiese Spele in Parys te verteenwoordig. Die losvoorspeler het in 125 toetse uitgedraf, maar is nie verlede jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekies nie. Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis dat die land nie die uitspeelronde gehaal het nie. Die 32-jarige speler is ingesluit in ʼn groep van 13 spelers wat volgende naweek aan die Hongkongse sewes deelneem. Afrigter John Manetti sê hulle is opgewonde om die ervare Hooper in hulle groep te hê.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-854-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-192-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: Een van Suid-Afrika se grootste jazz-ikone, Abdullah Ibrahim, stel volgende maand sy M7-stigting in Johannesburg bekend. Die musikant, wat in Duitsland woon, kom na vyf jaar terug na Suid-Afrika om volgende maand op die 12de en 14de onderskeidelik in Kaapstad en Pretoria op te tree. Dit is deel van sy wêreldtoer wat verlede Sondag in Bergamo, Italië, begin het. Ibrahim sê die stigting getuig van sy toewyding om jong talent te ondersteun en die ryk nalatenskap van Suid-Afrikaanse jazz te bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….