Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, krieket: Kaptein Laura Wolvaardt se honderdtal het bygedra tot die Suid-Afrikaanse vrouespan se gemaklike oorwinning met 79 lopies oor Sri Lanka se vroue in die eerste T20 in Benoni. Wolvaardt het 102 van 63 balle behaal en slegs die tweede Protea-vrou geword wat ‘n T20-honderdtal kon aanteken. Sy en Marizanne Kapp spog ook met ‘n rekord van 116 lopies om die tweede paaltjie. Die Suid-Afrikaners het 198 vir vyf aangeteken en Sri Lanka daarna uitgeboul vir 119. Wolvaardt is gelukkig met haar vertoning:
Nog nuus oor die sport is dat die Sunrisers Hyderabad ʼn skitterende sege van 31 lopies oor Mumbai Indians behaal het in ʼn Indiese Premierliga-wedstryd in Hyderabad. Die Suid-Afrikaner Heinrich Klaasen het ʼn onoorwonne 80 van net 34 balle bygedra tot Sunrisers se 277 vir drie, wat die hoogste totaal in die IPL se geskiedenis is. Dit was ook die vierde hoogste in enige mans-T20. Mumbai kon net antwoord met 246 vir vyf. Die wedstryd spog boonop met 38 sesse, wat ʼn nuwe rekord vir T20-wedstryde is.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, het sy plek in die Miami Ope se halfeindronde bespreek. Die Rus wat probeer om die eerste keer in sy loopbaan ʼn titel suksesvol te verdedig, het die Chileen, Nicolas Jarry 6-2, 7-6 geklop. Hy kom nou te staan teen Jannik Sinner van Italië, met wie hy ook vroeër vanjaar in die eindstryd van die Australiese Ope kragte gemeet het. Medvedev het die laaste vier gehaal sonder om ʼn stel af te staan terwyl Sinner vanjaar nog net een wedstryd verloor het.
# Rugby: Die Wallabies-veteraan Michael Hooper verskuif na sewesrugby in ʼn poging om Australië op die Olimpiese Spele in Parys te verteenwoordig. Die losvoorspeler het in 125 toetse uitgedraf, maar is nie verlede jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekies nie. Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis dat die land nie die uitspeelronde gehaal het nie. Die 32-jarige speler is ingesluit in ʼn groep van 13 spelers wat volgende naweek aan die Hongkongse sewes deelneem. Afrigter John Manetti sê hulle is opgewonde om die ervare Hooper in hulle groep te hê.
# En, die Olimpiese Spele : Die koste om vanjaar se Spele in Parys aan te bied bly styg, met ouditeure wat verwag dit sal tussen 60- en 100-miljard-rand beloop. Aan die begin van verlede jaar het beramings gestaan op 60-miljard-rand, na ‘n aanvanklike bedrag van 49-miljard-rand. eNCA berig ‘n studie deur die Oxford-universiteit in 2020 het bevind elke Somerspele sedert 1960 het die aanvanklike begroting twee- of driekeer oorskry, met Montreal en Rio de Janeiro wat byna bankrot gelaat is deur die onderskeie Speles van 1976 en 2016.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….