Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank het die repokoers op 8,25-persent behou en verwag nie om dit gou te verlaag nie. Die risiko’s wat hoë voedselpryse inhou en die hoë inflasieverwagtinge speel ‘n belangrike rol.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die polisie het die hulp van die privaat sektor ingeroep om sy hoofkantoor in die Telkom-toringgebou te herstel. Die werk sal sowat 18 maande duur.
En tweedens skryf die koerant oor die onderwyser van Schweizer-Reneke, Elana Barkhuizen wat deur die Noordwes LUR vir Onderwys om verskoning gevra is oor ‘n valse beskuldiging van rassisme. Sy sê sy is verlig.
En laastens is daar ‘n beriggie oor ‘n firma in Japan wat nou op doeke vir volwassenes konsentreer. Dit is ‘n aanduiding dat die aantal bejaardes in die land toeneem.
# The Star en Pretoria News:
Onthul vandag eerstens ‘n werksgeleentheid-skandaal in Mangaung waar geleenthede vir vriende aangebied is.
En berig tweedens oor kandidaat-prokureurs wat kla oor die toelatingseksamen.
# Sowetan:
Berig dit blyk uit die moordondersoek van die kletsrymer AKA dat die geld wat vir die moordenaars betaal is deur ‘n toonaangewende sakeman van KwaZulu-Natal voorgeskiet is.
# En The Citizen:
Skryf die vooruitsigte vir die toerismebedryf lyk nie goed nie. Buitelandse toeriste word afgeskrik deur Binnelandse Sake se drakoniese visum-maatreëls en binnelandse toeriste kan nie die hoë pryse bekostig nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het aangekondig hy gaan senior amptenare van die Matjhabeng-munisipaliteit in die Goudveld dagvaar om voor die hof te verskyn oor die watervoorsiening- en rioolprobleme in die gebied.
En tweedens skryf die koerant Louis van Schalkwyk van Brandfort gaan nie vervolg word vir sy uitlatings op TikTok waarin hy die polisie gekritiseer het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg opdrag gegee om die agt werknemers wat hy afgedank het, te vergoed. Die kommissie het Liebenberg se optrede as vulgêr bestempel.
Dan skryf die koerant die passasiers op die MSC-Splendour-plesierskip is vir 24 uur in die Kaapstadse hawe vertraag deur stormsterkte wind.
En laastens is daar nuus oor staatsamptenare in Uganda wat twee uur per week liggaamsoefeninge moet doen.
# En Cape Times:
Skryf daar is die moontlikheid van ‘n nuwe SAL-ooreenkoms.
En berig oor Eskom se redes waarom hy nie hospitale van beurtkrag kan vrystel nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se stadsbestuurder, Noxolo Nqwazi is in ‘n stryd gewikkel om die tugstappe teen haar te stop.
En skryf die finansiële hoof van Nelson Mandelabaai, Selwyn Thys het bedank.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Vra vandag die vraag – wie besit die MK-handelsmerk werklik? Die koerant skryf indien die ANC sy saak wen, kan dit die einde van die MK-party se deelname aan die verkiesing beteken.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die vermeende meesterbrein agter die Namibiese Fishrot-skandaal, James Hatuikulipi versuim steeds om die bron bekend te maak van die 61,8-miljoen-rand wat in Dubai in sy bankrekening inbetaal is.
En skryf tweedens die jongste statistiek dui daarop dat 34-persent van alle Namibiërs in informele behuising woon.
Die volgende uitgawe van die verslag verskyn Dinsdag 2 April.