Nuus 14:00
BULLETIN 27 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK word aangemoedig om stemdae oorsee oor naweke te skeduleer
# Die Referendum Party gaan op al drie stembriewe wees
# En rugby: Die Springbok-vrouespan wil hulle Europese toer op ‘n hoogtepunt afsluit
# Die DA se afdeling vir buitelanders doen ‘n beroep op die Onafhanklike Verkiesingskommissie om stemdae oorsee te skeduleer op dae wanneer mense nie werk nie, in ooreenstemming met vorige verkiesings. Weens teenstrydige inligting deur diplomatieke sendings is daar verwarring oor die stemdag-tydsberekening. Die OVK word aangeraai om te verseker dat alle toepaslike stemlokale op Saterdag 18 Mei of Vrydag 17 Mei vanaf soggens 7-uur tot saans 7-uur oop is. Die party vra ook duidelike riglyne oor ID-vereistes en tou-bestuur om demokratiese beginsels vir Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland te handhaaf.
Intussen sê die Referendum Party se leier, Phil Craig, die party is ingesluit op die Wes-Kaapse provinsiale asook streeks- en nasionale stembriewe vir die komende verkiesing. Die party is in November verlede jaar gestig om in die komende verkiesing mee te ding. Craig sê voor die Verkiesingskommissie se sperdatum vir die indiening van handtekeninge, het die party 18-duisend-660 nasionale en elf-duisend-937 provinsiale handtekeninge gewerf:
# Lede van die Climate Justice Coalition, insluitend die vakbond Giwusa, kritiseer die konsep Geïntegreerde Hulpbronplan omdat dit kritieke energie-uitdagings ignoreer. Hulle sê die plan versuim om kwessies soos beurtkrag, energie-tekorte en klimaatsverandering aan te pak. Hulle voer aan die plan se afhanklikheid van steenkool, gas, metaan en kernkrag is onvolhoubaar en strook nie met die land se verpligting om koolstofdioksied-uitstralings te verlaag nie. Ferron Pedro van Giwusa vra ‘n meer inklusiewe en volhoubare benadering tot energiebeplanning:
# Rugby: Die Springbok-vrouespan is vasbeslote om hulle Europese toer op ‘n hoogtepunt af te sluit en Saterdag ʼn sterk vertoning teen Amerika te lewer. Hulle het verlede naweek hulle eerste toets van die seisoen gewen toe hulle met Spanje afgereken het. Die toets in Londen sal die sesde tussen die twee lande wees en volgens die Springbok-vroue se hulpafrigter, Franzel September, sal dit ʼn produktiewe drie weke op toer afsluit:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-en-53-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die organiseerders van die 24ste Kaapstadse Internasionale Jazz-fees sê dit gaan nog groter as ooit tevore wees met nuwe talent, formate en verhoë. Kunstenaars wat gaan optree sluit in die Britse orkes Matt Bianco, en die plaaslike sterre Mandisi Dyantyi, Benjamin Jephta en Zoe Modiga. Die jazz-skouspel word op drie en vier Mei in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum gehou. Kaartjies kos 950-rand per dag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….