Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: ’n Reusestryd word in die skrums verwag wanneer die Ierse span Ulster Kaapstad Saterdag besoek vir ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Stormers. Dit sal die eerste keer wees dat die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff teen sy voormalige span speel en hy sal sy nasionale spanmaat, Frans Malherbe, aandurf. Kitshoff het die Stormers in 2023 tot die VGK-titel gelei voordat hy oorsee verhuis het. Die Stormers se hulpafrigter, Labeeb Levy, sê hulle sal hul voormalige kaptein tuis verwelkom – totdat die wedstryd begin.
Nog nuus oor die sport is dat die Junior-Springbokke op 2 Mei teen Nieu-Seeland speel in die openingswedstryd van die Onder-20-rugbykampioenskap. Die gasheer, Australië, en Argentinië neem ook aan die kompetisie deel. Dit vind plaas oor drie rondes waarin die spanne elk een wedstryd teen mekaar speel. Die Junior Bokke speel op 7 Mei teen Australië en hulle laaste wedstryd is op 12 Mei teen Argentinië. Die uitvoerende hoof van SANZAAR, Brendan Morris, sê die kampioenskap baan die weg vir jonger spelers na senior en internasionale rugby.
# Krieket: Die snelbouler Nandré Burger en die kolwer Tony de Zorzi het die eerste keer nasionale kontrakte van Krieket Suid-Afrika ontvang, terwyl die bouler Gerald Coetzee ’n voltydse kontrak kry. Coetzee speel tans in die Indiese Premierliga vir Mumbai Indians, wat hom vir ‘n yslike 11,4-miljoen-rand gekoop het. Die veelsydige Andile Phehlukwayo het sy Protea-kontrak teruggekry. Onder die vroue het die snelbouler Ayanda Hlubi en die veelsydige Eliz-Mari Marx hul eerste nasionale kontrakte gekry.
# Tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz is die derde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Miami Ope. Die Spanjaard het Lorenzo Musetti van Italië 6-3, 6-3 geklop. Die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, het die Duitser Dominik Koepfer 7-6, 6-stroop verslaan terwyl die tweede gekeurde Italianer Jannik Sinner ook deur is met ‘n oorwinning oor die Australiër Christopher O’Connell. In die vroueafdeling het die driemalige kampioen, Victoria Azarenka, die Rus Yulia Putintseva geklop om die halfeindronde te haal. Die Belarus sê dit was ʼn taai wedstryd:
# En, sokker: Bafana Bafana se gewese afrigter, Pitso Mosimane, sê hy voel geëerd en dankbaar vir die eredoktorsgraad wat die Universiteit van Johannesburg in Julie aan hom gaan toeken. Dit is uit erkenning vir sy sukses as ‘n speler en breier. Mosimane se prestasies sluit in die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Afrigter van die Jaar-toekenning en die PSL Afrigter van die Seisoen wat hy vyf keer ontvang het. Mosimane, wat tans die hoofafrigter van die Abha-klub in Saoedi-Arabië is, sê dié eer is baie spesiaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….