Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie het vier tersiêre instellings van Educor tot Oktober gegee om teen deregistrasie te appelleer. Die instelling moet 2020 en 2021 se jaarlikse finansiële sertifikate, jaarverslae en belastingklaringsertifikate indien.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die Kieshof se beslissing teen die ANC wat bepaal die MK-party mag aan vanjaar se algemene verkiesing deelneem. Kenners meen die ANC het te laat kapsie gemaak teen die party se registrasie. Die ANC se handelsnaamskendingsaak teen die MK-party kom vandag in die Durbanse Hooggeregshof voor.
En tweedens skryf die koerant Jeppe High School for Boys se kragmeting teen Grey Kollege is opgedra aan die rugbyspeler, Kaiden Bowie wat na ‘n wedstryd oorlede is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC het ‘n deurslaggewende hofsaak teen die MK-party verloor.
En berig Educor se leerkragte en studente is tans in die duister oor die moontlike deregistrasie van die kolleges.
# Sowetan:
Lei ook met die dreigende van deregistrasie van Educor se Damelin, City Varsity, Icesa City Campus en Lyceum College. Ouers eis dat 2024 se klasgeld terugbetaal word, aangesien hulle nie geweet het van die dreigende sluiting nie.
# En The Citizen:
Lei met: “BAD OMEN FOR THE ANC?” Die koerant skryf Jabulani Khumalo van die MK-party sê die ANC wil nie aanvaar dat sy tyd verby is nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor die ANC se hofnederlaag teen die MK-party.
En tweedens skryf die koerant ‘n boer van Carnarvon in die Noord-Kaap wat sy arm in ‘n fratsongeluk verloor het, Roux Steenkamp, is aangewys as die wêreld se voorste gestremde gholfspeler.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens word berig die 17-jarige Daniël Botha van die Hoër Jongenskool Paarl se hart het gaan staan toe ‘n hokkiestok hom op die bors getref het. Hy is dadelik deur paramedici te hulp gesnel en sterk tans in die hospitaal aan.
# En Cape Times:
Skryf die ses vermiste vissermanne van Houtbaai is veilig opgespoor. Hulle brandstof het opgeraak.
En berig die regter het die ANC die skuld gegee vir sy hofnederlaag teen die MK-party.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig inwoners van Nelson Mandelabaai moet hulself voorberei op skokkende tariefverhogings. Elektrisiteit sal met 15,7-persent styg.
En tweedens skryf die koerant een van Gqeberha se bekendste polisiebeamptes, adjudant offisier Severiano Blundin is vrygespreek op aanklagte van ontvoering, marteling en aanranding.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Jacob Zuma se MK-party het die eerste veldslag teen die ANC gewen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig beleggers het verlede jaar bykans 60-miljard-rand in die Namibiese ekonomie belê – die meeste daarvan in mynbou- en eksplorasiebedrywighede.
En die koerant skryf sommige van Namibië se grensriviere het nou baie lae watervlakke bereik, terwyl die gemiddelde vlak van Namibië se opgaardamme op slegs 54,8-persent staan.