Nuus 14:00
BULLETIN 26 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende speaker aanvaar die DA se mosie van wantroue teen Mapisa-Nqakula
# ‘n Kenner waarsku onttrekkings uit die tweepot-aftreestelsel sal onderhewig wees aan belasting
# En, rugby: Die Leeus wil hulle suksesvolle veldtog voortsit
# Die waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli, het die DA se mosie van wantroue teen die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, goedgekeur. Die mosie, ingedien deur die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, beweer onbehoorlike gedrag. Dit volg ná bewerings van miljoene rand se omkoopgeld wat sy aanvaar het toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die skedulering van die mosie sal aangekondig word ná raadpleging met Gwarube:
# Allan Gray se regsadviseur, Jaya Leibowitz, waarsku onttrekkings uit die spaar-deel van die tweepot-aftreestelsel is aan belasting onderhewig. Sy het benadruk noukeurige finansiële beplanning is noodsaaklik en stel voor dat individue ‘n aparte noodfonds stig in plaas daarvan om net op die nuwe aftreestelsel staat te maak. Vanaf die eerste September kan tot ‘n derde van die spaargeld onttrek word, met bydraes wat in aftree- en spaar-dele verdeel word. Leibowitz sê onttrekkings uit die spaar-deel kan mense moontlik in ‘n hoër belastinggroep plaas.
# Suid-Afrikaanse verbruikersvertroue het effens verbeter in die eerste kwartaal van 2024, maar bly steeds onder druk. Eerste Nasionale Bank en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se Verbruikersvertroue-aanwyser staan op minus-15. Die geringe styging word toegeskryf aan verbeterde ekonomiese en huishoudelike finansiële vooruitsigte, maar word geneutraliseer deur ‘n afname in vertroue wat betref die aankoop van duursame goedere. Hoë-inkomste huishoudings het groter optimisme getoon, terwyl middel- en lae-inkomstegroepe steeds versigtig bly. Faktore wat vertroue beïnvloed sluit in inflasie, werkverliese, brandstof-prysstygings en ‘n strenger fiskale beleid.
# Keniaanse owerhede begin vandag die liggame van verskeie mense wat gekoppel is aan ‘n oordeelsdag-kultus aan hul naasbestaandes terugbesorg. Die saak het die land en die wêreld geskok het. Die oorskot is die eerste wat aan hul families oorhandig is nadat daar byna ‘n jaar noukeurig gewerk is om hulle met behulp van DNS te identifiseer. Honderde liggame, insluitend dié van kinders, is opgegrawe uit vlak massagrafte wat in April verlede jaar in ‘n afgeleë wildernis in die binneland van Malindi aan die Indiese Oseaan ontdek is.
# Rugby: Die Leeus wil voortgaan met hul stryd om die top-agt van die Verenigde Rugby-kampioenskap te haal wanneer hulle die Ospreys Saterdag in Wallis die stryd aansê. Hul veldtog het ‘n groot hupstoot gekry met ‘n oorwinning van 38-14 die afgelope naweek oor Connacht in Galway, al het hulle vir meer as ‘n uur met net 14 spelers gespeel. Die span van Johannesburg is nou agtste op die punteleer en die hulpafrigter, Ricardo Loubscher, sê hulle wil hul goeie lopie voortsit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-897-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-193-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….