Nuus 13:00
BULLETIN 26 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende speaker aanvaar die DA se mosie van wantroue teen Mapisa-Nqakula
# Twee-en-veertig kandidate verskyn op verskeie partye se lyste
# En, tennis: Murray gaan lank buite aksie wees na ‘n enkelbesering
# Die waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli, het die DA se mosie van wantroue teen die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, goedgekeur. Die mosie, ingedien deur die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, beweer onbehoorlike gedrag. Dit volg ná bewerings van miljoene rand se omkoopgeld wat sy aanvaar het toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die skedulering van die mosie sal aangekondig word ná raadpleging met Gwarube:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het 42 kandidate geïdentifiseer wat op meer as een party se lys is, met 39 verskillende partye wat by hierdie kwessie betrek word. Die onthulling volg ná gister se sperdatum, toe politieke partye die kommissie in kennis moes stel van enige kandidate wat op verskeie lyste of as onafhanklikes benoem is. Lede van die publiek kan nou die lyste van partye en onafhanklike kandidate besigtig. Hierdie lyste sal vandag en môre beskikbaar wees by die OVK se nasionale, provinsiale en munisipale kantore vir hersiening.
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het Gerrit van der Merwe as voorsitter aangestel vir ‘n twee-jaar termyn. Hy volg Hannes de Waal op. Van der Merwe, wat voorheen die besturende direkteur van ALG Estates was, het ‘n gemeenskapsgerigte benadering beloof om ekonomiese vooruitsigte in die bedryf te verbeter. Hy poog om logistieke en marktoegangs-uitdagings in die bedryf voorop te stel. Van der Merwe se aanstelling val saam met planne om 100-miljoen kartonne sitrus uit te voer, wat 100-duisend werksgeleenthede sal skep.
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, sê hy gaan ‘n tyd lank buite aksie wees. Hy het Sondag sy enkel-ligament geskeur tydens sy nederlaag teen Tomas Machac op die Miami Ope. Die 36-jarige speler sê hy sal ʼn enkelspesialis gaan sien om vas te stel wat die volgende stappe moet wees. Murray se jongste beserings-terugslag kom net minder as twee maande voor die Franse Ope en ongeveer drie maande voor Wimbledon, waar hy al twee keer kampioen was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-102-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-184-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-17-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: ʼn Dosent in Chemie aan die Universiteit Stellenbosch, Marietjie Lutz, gaan oor Paasnaweek van George na Stellenbosch fietsry. Dis ʼn afstand van ongeveer 600 kilometer. Die doel is om fondse in te samel vir voorgraadse B Sc-studente wat finansieel sukkel. Lutz sê sy het die idee vir die Wiele van Geleentheid-veldtog gekry toe sy in 2022 maniere probeer vind het om ʼn slim eerstejaarstudent te help:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….