Nuus 11:00
BULLETIN 26 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verloor sy aansoek teen die MK Party in die Kieshof
# Business Leadership SA sê vertroue in die regstelsel het ’n laagtepunt bereik
# En rugby: Danny Care van Engeland tree uit internasionale rugby
# Die Kieshof het die ANC se aansoek van die hand gewys dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie die uMkhonto weSizwe-party se registrasie omkeer.
Nog verkiesingsnuus is dat ActionSA sê sy kandidatelys vir die Nasionale Vergadering en al nege provinsiale wetgewers is uiteenlopend met talle uitnemende jong mense daarop. Die party het vandag sy lys bekend gemaak in aanloop tot die verkiesing op 29 Mei, met Herman Mashaba wat die groep lei. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die persone wat gekies is om in die Nasionale Vergadering te dien, is die geloofwaardigste en mees ervare, in teenstelling met die huidige opgeblase kabinet van mislukte ministers en adjunkministers:
# Business Leadership South Africa sê daar is ‘n probleem met vertroue in die land rondom die doeltreffendheid van die regstelsel, en dit belemmer beleggings. Daar was die afgelope week die geval van die Nasionale Vergadering se speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wat te midde van ʼn korrupsie-ondersoek spesiale verlof geneem het. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê ʼn strafregtelike stelsel wat goed funksioneer moet ʼn rugsteun wees. Sy sê daar is egter min vertroue in die regstelsel weens die stryd om die groot getal mense wat by korrupsie betrek word, aan te keer.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê hy het 59-duisend-510 aanlyn aansoeke vir grade 1 en 8 ontvang vir volgende jaar, met die huidige toelatingsvenster wat die halfpadmerk bereik het. Die departement het verlede jaar meer as 125-duisend aansoeke ontvang. Die LUR, David Maynier, doen ‘n beroep op ouers wat nog hul kinders moet inskryf, om dit so gou moontlik te doen voor die sluitingsdatum van 12 April:
# Die Amerikaanse Departement van Binnelandse Veiligheid het ‘n klopjag uitgevoer op huise van die musikant en vervaardiger Sean Diddy Comb in Los Angeles, Miami en New York. Dit hou volgens berigte verband met ‘n voortdurende mensehandel-ondersoek. Combs het in November geskik in ‘n saak waarin ‘n gewese vriendin – die sangeres Casandra Cassie Ventura – hom aangekla het van verkragting en jarelange herhaaldelike mishandeling. Minstens nog twee klagtes van seksuele aanranding en mensehandel is in Desember teen hom aangangig gemaak. Hy ontken alle aantygings.
# Rugby: Engeland en Harlequins se skrumskakel, Danny Care, gaan uit internasionale rugby tree. Die 37-jarige Care het vroeër die maand slegs die sesde speler geword wat 100 toetse vir Engeland gespeel het toe hy in hul Sesnasies-oorwinning oor Ierland van die plaasvervangerbank opgedraf het. Hy het in 2008 sy debuut vir Engeland gemaak. Care sê dit was wonderlik om sy land vir 16 jaar te kon verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-659-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-171-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….