Nuus 06:00
BULLETIN 26 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula se lot sal op 2 April bepaal word
# Die Duitse sagtewarereus SAP word beveel om R500-miljoen te betaal vir onwettige Eskom-kontrakte
# En krieket: Engeland sak terug tot onderaan die Wêreld-kampioenskap-punteleer
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die uitspraak oor ‘n dringende hofaansoek deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, tot 2 April uitgestel. Regter Sulet Potterill het haar ontevredenheid uitgespreek oor Mapisa-Nqakula se versoek om die getuienis voor die uitspraak te ondersoek. Die staat het onderneem om Mapisa-Nqakula nie in hegtenis te neem tot die hof beslis het nie. Mapisa-Nqakula is op spesiale verlof en poog om haar arrestasie oor beweerde omkopery terwyl sy die minister van Verdediging was te vermy. Die Nasionale Vervolgingsgesag se advokaat, Makhosi Gwala, sê die NVG het nooit gedreig om Mapisa-Nqakula in hegtenis te neem nie:
# Die Duitse sagtewarereus SAP het ingestem om binne sewe dae 500-miljoen-rand aan die Spesiale Ondersoekeenheid te betaal vir korrupte kontrakte by Eskom. Die SOE sê die skikking het betrekking op twee Eskom-kontrakte ter waarde van sowat 1,1-miljard-rand wat tussen 2013 en 2016 aan SAP toegeken is. Die Spesiale Tribunaal het die kontrakte ongrondwetlik verklaar, aangesien die ondersoek bevind het die kontrakte is onwettig aangegaan. Die eenheid sê die skikkingsooreenkoms onthef nie SAP of enige party wat betrek word van vervolging nie.
# Die saak teen die beweerde moordenaars van ‘n bekende dokter, Michael Isabelle, is tot 2 April uitgestel. Matwetwe Muningi en Tebogo Thutlwa het gister die eerste keer in die Landdroshof in Roodepoort verskyn nadat Isabelle tydens ‘n rooftog by sy praktyk in Dobsonville doodgeskiet is. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag Phindi Mjonondwane sê die saak is uitgestel vir verdere ondersoek:
# Die Green Connection en Natural Justice het met regstappe begin teen die goedkeuring wat aan TotalEnergies EP South Africa verleen is vir verkenningsboorwerk in afdelings 5, 6 en 7 aan die Kaapse Kus. Hulle voer aan die besluit het nie die maatskaplik-ekonomiese uitwerking evalueer nie, ignoreer die gevolge van klimaatsverandering en verwaarloos die behoorlike evaluering van oliestortings-gebeurlikheidsplanne. Green Connection se strategiese leier, Liziwe McDaid, beklemtoon die behoefte aan nakoming van omgewingswette en die beskerming van kushulpbronne vir toekomstige geslagte, om volhoubare bestuur van oseane te verseker.
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres versoek dat die resolusie wat ‘n onmiddellike wapenstilstand in Gasa vereis dadelik ingestel word. Die VN-veiligheidsraad het ‘n resolusie aanvaar waarin gevra word vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza tydens Ramadan, die vrylating van alle gyselaars, en die dringende uitbreiding van hulp in Gaza. Daar was 14 stemme ten gunste met die VSA wat buite stemming gebly het. Guterres sê dit sal onvergeeflik wees indien die mosie nie ingestel word nie.
# Krieket: Engeland bevind hulleself onderaan die Wêreld-kampioenskap-punteleer nadat Sri Lanka Bangladesh met 328 lopies afgeransel het in hulle eerste toets in Sylhet. Engeland is in die negende plek na tien wedstryde, net agter Suid-Afrika, wat net vier kon speel. Indië is eerste na nege toetse, gevolg deur die verdedigende kampioen, Australië na twaalf wedstryde, en Nieu-Seeland na ses. Die eindstryd word in Junie volgende jaar gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-230-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-171-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….