Nuus 15:00
BULLETIN 25 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vierde beskuldigde in Joslin Smith se verdwying laat vaar haar borgtogaansoek
# ‘n Voormalige hoof van Steinhoff word borgtog toegestaan
# En, sokker: Cosatu vra Israel moet uitgeskop word uit alle internasionale bedrywighede
# Die vierde beskuldigde in die verdwyning van Joslin Smith het haar borgtogaansoek laat vaar. ‘n Buurvrou van die gesin, Lourentia Lombaard, het vanoggend in die Landdroshof in Vredenburg verskyn op aanklagte van mensehandel en ontvoering. Die ses-jarige meisie het vandag vyf weke gelede by haar huis in die Middelpos-informele nedersetting in Saldanhabaai verdwyn. Lombaard se saak is tot 13 Mei uitgestel, wanneer sy saam met Joslin se ma, Kelly, haar kêrel en nog ‘n man in die hof sal verskyn.
# Die voormalige hoof van regsaangeleenthede by Steinhoff, Stéhan Grobler, is borgtog van 150-duisend-rand toegestaan in die Handelsmisdaadhof in Pretoria, nadat hy hierdie naweek in aanhouding was. News24 berig landdros Nicca Setshogoe het beslis Grobler is nie ‘n vlugrisiko nie. Borgtogvoorwaardes sluit in die inhandiging van sy paspoort en gereelde aanmelding by die Brooklyn-polisie. Grobler, wat in 2018 bedank het, staan tereg op aanklagte van bedrog en rampokkery. Hy het homself oorgegee aan die polisie ‘n dag nadat die voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, op Menseregtedag selfdood gepleeg het.
# Die Nasionale Energiereguleerder het die groenlig gegee vir ministeriële goedkeuring van die Richardsbaaise gas-na-krag-projek in KwaZulu-Natal. Dit volg op die afkeur van omgewingsinvloed-beoordelings-uitdagings deur die Hooggeregshof in Pretoria. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die projek is gelisensieer vir drie-duisend-megawatt opwekking. Ramokgopa verwag ook binnekort die aankondiging van die gas-meesterplan:
# China sê hy steun ‘n nuwe konsepresolusie by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad oor ‘n onmiddellike skietstaking in Gaza, nadat hy en Rusland ‘n vroeëre voorstel deur Amerika geveto het. China sê hy hoop die Veiligheidsraad sal dit so vinnig moontlik goedkeur en ‘n sterk boodskap uitstuur vir die opskorting van vyandelikhede. Die raad is verdeeld oor die oorlog tussen Israel en Hamas sedert die aanvalle van 7 Oktober, met die goedkeuring van net twee uit agt resolusies, wat albei hoofsaaklik gehandel het oor humanitêre hulp aan die verwoeste Gazastrook.
Intussen doen Cosatu ‘n beroep op die sokkerbeheerliggame SAFA en CAF om te eis dat FIFA en UEFA Israel onmiddellik skors en die land uitskop. Die federasie sê dit sal keer dat Israel aan enige internasionale bedrywighede deelneem totdat die oorlog teen die mense van Palestina beëindig en die land vry is. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die federasie kan nie normale verhoudings goedkeur nie en sal steeds vra vir ‘n boikot, onttrekking en sanksies teen Israel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-134-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-168-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….