Nuus 14:00
BULLETIN 25 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige hoof van Steinhoff word borgtog toegestaan
# Minister Ramokgopa versnel die goedkeuringstye om belegging in energieprojekte ‘n hupstoot te gee
# En, motorsport: Binder is tweede op die Moto GP-punteleer na sy vierde plek in Portugal
# Die voormalige hoof van regsaangeleenthede by Steinhoff, Stéhan Grobler, is borgtog van 150-duisend-rand toegestaan in die Handelsmisdaadhof in Pretoria, nadat hy hierdie naweek in aanhouding was. News24 berig landdros Nicca Setshogoe het beslis Grobler is nie ‘n vlugrisiko nie. Borgtogvoorwaardes sluit in die inhandiging van sy paspoort en gereelde aanmelding by die Brooklyn-polisiestasie. Grobler, wat in 2018 bedank het, staan tereg op aanklagte van bedrog en rampokkery. Hy het homself oorgegee aan die polisie ‘n dag nadat die voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, op Menseregtedag selfdood gepleeg het.
# Die Ministerie van Elektrisiteit bevestig pogings om omgewingsinvloeds-bepaling en watergebruik-lisensie-goedkeurings te bespoedig om vertragings in kommersiële projekte te voorkom. Minister Kgosientsho Ramokgopa glo die versnelling sal nie ekologiese of bioverskeidenheidskwessies in die gedrang bring nie, maar eerder daarna mik om beleggersvertroue te handhaaf terwyl omgewingsbeskerming verseker word:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die provinsiale polisie-ombud se verslag dui aan hy het tussen April tot Desember verlede jaar 86,3-persent van die 307 sake afgehandel wat hy ondersoek het. Allen sê daar is tans 30 sake wat ondersoek word, agt moet nog toegewys word, en vier moet afgehandel word:
# Motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika is tweede op die Moto GP-punteleer nadat hy vierde geëindig het in gister se Grand Prix in Portugal. Dit het gevolg op sy tweede plek vir Red Bull KTM Factory Racing in die vorige wedren in Katar. Binder het gister klaargemaak na Prima Pamac Racing se Spaanse jaer, Jorge Martín, die Italianer Enea Bastianini van die Ducati Lenovo-span, en nog ‘n Spanjaard, Pedro Acosta van Tech 3 KTM Factory Racing. Martín is tans bo-aan die punteleer, met Bastianini derde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-152-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-168-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-44-sent per vat.
# En, die 12de jaarlikse Koop-plaaslik-beraad-en-ekspo begin vandag in die Sandton Konvensiesentrum in Johannesburg. Meer as 200 uitstallers vanuit verskeie sektore, insluitend vinnig bewegende verbruikersgoedere, vervaardiging, kleinhandel en landbouverwerking, sal hul produkte tentoon stel tydens die tweedaagse geleentheid. Die minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, het die belangrikheid van plaaslike goedere vir ekonomiese groei beklemtoon. Hy sê die geleentheid het ten doel om plaaslike verkryging en werkskepping te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….