Eko-minuut 13:30
BULLETIN 25 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Parlement se afvaardiging na die 148ste Vergadering van die TussenParlementêre Unie in Switserland het wysigings voorgestel aan die konsepresolusie oor vennootskappe vir klimaatsoptrede. ’n Lid van die afvaardiging, Doris Dlakude, sê Suid-Afrika se voorstelle probeer die resolusie versterk, met ‘n voorstel om verbeterde internasionale samewerking in te sluit, om toegang te bewerkstellig tot skoon energienavorsing en tegnologie, insluitend hernubare energie. Sy sê klimaatsverandering is nie net ‘n omgewingskwessie nie, maar ‘n ekonomiese, maatskaplike en morele kwessie wat dringend aandag verg.
# Greenpeace Africa sal dié week sy jongste verslag vrystel met die titel “Vername Lugbesoedelaars in Afrika Ontmasker”. Lugbesoedeling het in 2019 na vore gekom as die tweede belangrikste oorsaak van sterftes op die vasteland. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie asem nege uit elke tien mense tans lug in wat sy riglyne vir besoedelingstowwe oorskry, met mense in lae- en middel-inkomste lande wat die ergste ly. Greenpeace Africa sê die verslag sal ook die behoefte uitlig aan die versnelling van ‘n billike oorgang na skoon energie.
# En, nuus van die Olimpiese Spele: Frankryk werp alles in die stryd om te keer die virus-draende tiermuskiet, ‘n toenemende plaag in Europa, bederf die Spele in Parys, met miljoene besoekers wat oor vier maande verwag word. AFP berig die insek het hom die afgelope twee dekades tuisgemaak in groot dele van Noord-Europa weens klimaatsverandering, en versprei siektes soos knokkelkoors en die chikungunya– en die zika-virus. Die owerhede probeer tevergeefs ontslae raak van die insekte, en het dele van Parys berook, ‘n tegniek wat dikwels in tropiese stede gebruik word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….