Nuus 12:00
BULLETIN 25 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Peilings voorspel die DA kan sy meerderheid in die Wes-Kaap verloor
# Die minister van Elektrisiteit verduidelik planne om uitdagings by Eskom aan te pak
# En, Olimpiese Spele: ‘n Stryd teen tyd om Parys muskiet-vry te maak
# Die DA kan in die komende verkiesing dalk sy meerderheid in die Wes-Kaap verloor. Dit is volgens ‘n opname van die Sosiale Navorsingstigting waarvolgens die DA se steun in die provinsie op 53-persent staan. Dit is twee persentasiepunte laer as die 55,4-persent in 2019. Die ANC is tweede met 17-persent, wat elf persentasiepunte laer is as in 2019. Die Vryheidsfront Plus staan op sewe-persent, wat meer as vier persentasiepunte hoër is as in 2019.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê een van die stappe om die uitdagings by Eskom op te los, is om aandag te gee aan die prestasie van die steenkoolvloot. Hy sê dit sal vereis dat die verhouding tussen Eskom en die oorspronklike toerustingvervaardigers versterk word. Die minister het die land ingelig oor die inwerkingstelling van die Energie-aksieplan. Ramokgopa het ook die dringendheid benadruk om verkrygings- en instandhoudingsprosesse vir opwekkingseenhede te versnel:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut in Kaapstad gaan voort met ʼn uitgebreide soektog na ses vissers wat ter see vermis geraak het op ʼn grys vasteromp-opblaasboot. Die mans is vermoedelik van Houtbaai en Hawston in die Wes-Kaap. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê hulle soek in die diepsee suid en suidwes van Kaappunt waar die vissermanne volgens berigte Saterdag visgevang het:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê gevalle van Duitse masels is in die George-omgewing aangeteken. Hoewel dit gewoonlik ‘n ligte siekte is by kinders en volwassenes, kan dit baie skadelik wees vir swanger vroue, omdat dit hul ongebore babas ook kan besmet. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê Duitse masels is ‘n hoogsaansteeklike siekte wat gekenmerk word deur simptome soos koors en ‘n uitslag:
# Olimpiese Spele: Frankryk werp alles in die stryd om te keer die virus-draende tiermuskiet, ‘n toenemende plaag in Europa, bederf die Spele in Parys, met miljoene besoekers wat oor vier maande verwag word. AFP berig die insek het hom die afgelope twee dekades tuisgemaak in groot dele van Noord-Europa weens klimaatsverandering, en versprei siektes soos knokkelkoors en die chikungunya– en die zika-virus. Die owerhede probeer tevergeefs ontslae raak van die insekte, en het dele van Parys berook, ‘n tegniek wat dikwels in tropiese stede gebruik word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-885-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….