Nuus 06:00
BULLETIN 25 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula se interdik teen haar arrestasie sal vandag aangehoor word
# Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters gaan sy saak teen Markus Jooste sluit
# En fietsry: Suid-Afrika se Matt Beers en die Amerikaner Howard Grotts wen die Cape Epic
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se interdik-aansoek teen haar inhegtenisneming, sal vandag in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor word. Sy word daarvan beskuldig dat sy omkoopgeld ter waarde van miljoene van ‘n militêre kontrakteur aanvaar het terwyl sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was. In haar aansoek eis Mapisa-Nqakula die volle blootlegging van die saak teen haar, insluitend die aanklagte, notas van die ondersoekers en die volledige ondersoeklêer. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat sal die aansoek op meriete teenstaan.
# Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters sê hy het aanbeveel dat die tugstappe teen Markus Jooste laat vaar word. Die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff het verlede week selfdood gepleeg nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor hom ‘n boete opgelê het van 475-miljoen-rand. Jooste het vals finansiële jaarstate en jaarverslae ingedien. Die uitvoerende hoof van die instituut, Patricia Stock, sê Jooste kan nie meer verantwoording doen nie
Uitspraak sal intussen vandag gelewer word in die Pretoria Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in die borgtogaansoek van die voormalige Steinhoff uitvoerende bestuurder en prokureur, Stéhan Grobler. Hy het homself Vrydag aan die polisie oorgegee, ‘n dag nadat Jooste sy eie lewe geneem het. Grobler ontken die aanklagte van bedrog en rampokkery teen hom. Sy regsverteenwoordiger, advokaat Francois Roets, versoek borgtog van 50-duisend-rand. Die staat is teen borgtog gekant, maar sal 200-duisend-rand aanvaar.
# Die polisie in Gauteng het gister ses swaar gewapende verdagtes in hegtenis geneem wat na bewering op pad was om ‘n rooftog in Sandton, Johannesburg, te pleeg. Beamptes het ‘n bakkie met ‘n koeriermaatskappy se logo en ‘n privaat Toyota-bakkie met die ses gewapende verdagtes voorgekeer. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die verdagtes is aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook sameswering om roof te pleeg:
# Die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad sê hy het Rusland vroeër die maand gewaarsku teen ‘n moontlike aanval deur die Islamitiese Staat. Minstens 137 mense, insluitend drie kinders, is dood in ‘n aanval verlede Vrydagaand by ‘n konsertlokaal in Moskou. Die Islamitiese Staat, ook bekend as ISIS, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die Kremlin het die waarskuwing vroeër as propaganda afgemaak. Intussen het die Withuis bewerings van die Russiese president Vladimir Putin dat Oekraïne by die aanval betrokke was, verwerp.
# Fietsry: Die Suid-Afrikaners Matt Beers en sy Amerikaanse spanmaat, Howard Grotts het die 2024 Cape Epic gewen. Die twee fietsryers van die Toyota-Specialised NinetyOne-span het derde geëindig in die sewende skof wat die Grand Finale in Stellenbosch genoem word, en ruim binne die toegelate tyd vir ‘n algehele sege. Dit is Beers se derde titel en Grotts se tweede nadat hulle die Wêreld-fietsryhulpspan van Nino Schurter en Sebastian Fini in die algemene afdeling gewen het. Anne Terpstra van Nederland en Nicole Koller van Switserland het die vroue-afdeling gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-597-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-175-dollar-een-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….