Nuus 13:00
BULLETIN 23 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Okosa stel laer oproep-tariewe voor
# ‘n Onderwyskenner striem Malema omdat hy na bewering tienerswangerskappe aanmoedig
# En, motorsport: Verstappen spring weer voor weg in Australië
# Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika het konsepwysigings uitgereik aan Oproepregulasies. Die owerheid probeer tariewe aansienlik verlaag vir groothandel-uitgaande oproepe én vir die ontvanger van ‘n oproep. Die koste van ‘n mobiele uitgaande oproep, asook vir die ontvanger van ‘n oproep, sal afneem, tot nege-sent vanaf 1 Julie 2024, en sal verder verlaag, tot vier-sent, vanaf 1 Julie 2025. Okosa se raadskomitee-voorsitter, Nompu-cuko Non-tombana, sê die voorgestelde veranderings sal die weg baan vir ‘n meer verbruikers-gerigte telekommunikasie-mark. Belanghebbendes kan tot 10 Mei insette lewer.
# Die Freedom in South Africa-koninkryke sê hulle voel afgeskeep deur die regering, en dit het nou gelei tot ‘n politieke allinasie met die Congress of the People in die komende verkiesing. Die president van FISA, koning Nthai Monnye Malatji, sê meer as 30 stamme stel belang om by Cope aan te sluit en beskou dit as ‘n kans om sigbaarheid te verwerf. Volgens die koning skuif die regering tradisionele leiers uit, wat hulle op die kantlyn laat:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta kritiseer die EFF-leier Julius Malema se onlangse verklaring waarin hy partylede aanmoedig om kinders te hê en verhoogde kindersteuntoelaes beloof. Makaneta waarsku, sulke retoriek, gemik op jongmense en tieners, kan roekelose gedrag aanmoedig en tienerswangerskappe en seksueel oordraagbare siektes laat toeneem. Hy vra Malema om sy invloed positief te gebruik, en ernstig te dink oor die tipe boodskappe wat hy oordra:
# Motorsport: Formule een wêreldkampioen Max Verstappen het dit weer reggekry. Hy spring voor weg in môre se Australiese Grand Prix. Die Nederlander in sy Red Bull was die tweede vinnigste in die finale oefensessie, maar alles het in die kwalifiseringsrondes in plek geval en hy het vir die derde agtereenvolgende wedren dié seisoen, die voorste wegspringplek verseker. Carlos Sainz in sy Ferrari spring tweede weg, en Verstappen se spanmaat, Sergio Pérez sal vauit die derde posisie wegspring. Lewis Hamilton in sy Mercedes kon nie die finale kwalifiseringronde haal nie en spring môre in die elfde plek weg.
# En, om mee af te sluit: Die Vroueliga van die ANC stel vandag die Winnie Mandela-vrywilligersliga bekend in Khayelitsha, Kaapstad. Die inisiatief eer die nalatenskap van die ontslape Madikizela-Mandela, en lig haar toewyding uit aan geregtigheid, gelykheid en bemagtiging van vroue. Die liga sê in ‘n verklaring, die bekendstelling beklemtoon hulle vasberadenheid om Madikizela-Mandela se ideale landwyd te bevorder, en die rol van vroue te erken in Suid-Afrika se voortgesette stryd om gelykheid en maatskaplike geregtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….