Nuus 09:00
BULLETIN 23 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP sê die ANC-leierskap moet help om spanning in KwaZulu-Natal te verminder
# Rusland en China veto ‘n Amerikaans-geleide VN-resolusie oor ‘n skietstilstand in Gaza
# En, krieket: Die Indiese Premierliga begin op ‘n opwindende noot
# Die Inkatha Vryheidsparty het ‘n beroep op die ANC-leierskap gedoen om te help om spanning tussen die twee partye in KwaZulu-Natal te verminder voor die algemene verkiesing. Die president van die IVP, Velenkosini Hlabisa, het die ANC beskuldig van gewelddadige beledigings teen sy party en het hul lede bestempel as krygsvegters en skurke. Hlabisa sê die IVP veroordeel geweld en verwerp ongegronde aansprake wat deur die ANC gemaak word, en dring aan op ‘n vreedsame oplossing:
# Build One South Africa het watertenkwaens gestuur na Swaneville-inwoners in Krugersdorp as deel van sy watertoetsveldtog. Die adjunk-president van BOSA, Nobuntu Hlazo-Webster, het sy party se toewyding herbevestig aan samewerking met gemeenskappe om skoon water vir elke Suid-Afrikaner te verseker. BOSA beplan om sy aksieplan teen die waterkrisis binnekort voor te lê aan die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu:
Build One South Africa het vroeër gesê, niemand moet verbaas wees oor Suid-Afrika se verdiepende waterkrisis nie, want die regering het geen politieke wil om dit aan te spreek nie. Die party sê die regering het selfs planne aangekondig om water uit Zimbabwe te verkry. Hulle voer aan die krisis het groot dele van Gauteng reeds twee weke lank sonder water gelaat, en het inwoners se vermoë om basiese take te verrig, uiters negatief geraak. BOSA doen ‘n oproep op belanghebbendes en relevante organisasies om, wat hy noem, die lewensgevaarlike bedreiging vir die provinsie, baie dringend aan te spreek.
# Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het gister ‘n resolusie verwerp vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza en ‘n gyselaarsooreenkoms tussen Israel en Hamas. Rusland en China het die maatreël, wat Amerika voorgestel het, geveto. Die resolusie het gevra vir ‘n skietstilstand van ongeveer ses weke. Die raad stem vandag weer oor ‘n alternatiewe resolusie, waarvan Reuters ‘n konsepafskrif gesien het. Dit eis ‘n onmiddellike skietstilstand vir die Moslem heilige maand Ramadaan, die vrylating van alle gyselaars en meer humanitêre bystand vir Gaza.
# En, krieket: Uitstaande boulwerk deur Mustafizur Rahman en kragtige kolfwerk deur die top ses het gesorg dat die verdedigende kampioene, Chennai Super Kings, hulle verdediging van hulle Indiese Premierliga-titel met ‘n ses-paaltjie oorwinning teen Royal Challengers Bengaluru afskop. Mustafizur het gesorg dat Bengaluru drie paaltjies verloor vir net een lopie, voor hulle ‘n totaal aangeteken het van 173-vir-ses, nadat hulle gekies het om eerste te kolf. Chennai se top ses het almal meer as ‘n lopie per bal aangeteken en met 176-vir-vier gewen met agt balle oor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….