Nuus 17:00
BULLETIN 22 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Steinhoff-ondersoek gaan voort ondanks Markus Jooste se dood
# ‘n Veelparty- politieke ingrypingskomitee word in KwaZulu-Natal van stapel gestuur
# En, krieket: CSK begin die verdediging van sy IPL-titel met ‘n nuwe kaptein
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê ondersoeke duur voort na nog moontlike oortredings in die Steinhoff-sage. Die owerheid bevestig die selfdood van die voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, sal nie hul voortgesette ondersoek beïnvloed nie. Hulle bevestig die boete van 475-miljoen-rand wat voor sy dood op Jooste afgedwing is, bly onveranderd en kan van sy boedel verhaal word. Ondersoeke het misleidende finansiële state deur Jooste en die finansiële hoof, Dirk Schreiber, blootgelê wat die ondersoek van ander individue aangespoor het ingevolge die Wet op Finansiële Markte.
# Die Black Lawyers Association beoog om regter Ratha Mokgoatlheng se opmerkings oor swart regsgeleerdes te bespreek. Dit volg op kritiek op die verdedigings-advokaat, Thulani Mngomezulu, se afwesigheid van die hof in die Senzo Meyiwa-saak in die Hooggeregshof in Pretoria. Die regter het om verskoning gevra vir sy opmerkings. Die vereniging se president, Nkosana Mvundlela, spreek kommer uit oor die regter se opmerkings, en beklemtoon etiek is universeel ongeag van ras:
# ‘n Veelparty- politieke ingrypingskomitee is in Nongoma, KwaZulu-Natal, van stapel gestuur. Die voorsitter van die Inkatha Vryheidsparty, Thami Ntuli, sê die komitee sal maniere formuleer om politieke onverdraagsaamheid te bekamp en vreedsame verbintenisse te handhaaf tussen politieke partye in die provinsie voor die algemene verkiesing. Hy sê politieke partye insluitend die ANC, IVP, DA, EFF, MK Party, Abantu Batho Congress, Action SA en die National People’s Front is teenwoordig:
# Krieket: Die Chennai Super Kings begin die verdediging van hul Indiese Premierliga-titel met ‘n nuwe kaptein nadat die Indiese veteraanspeler, MS Dhoni, die leierskap oorhandig het aan sy landgenoot Ruturaj Gaikwad. Dhoni was sedert 2008 CSK se kaptein, behalwe vir ‘n kort tydperk in 2022, toe Ravindra Jadeja vir agt wedstryde oorgeneem het. CSK en Mumbai Indians deel die rekord van vyf IPL-titels elk. CSK speel vandag teen die Royal Challengers Bangalore met Faf du Plessis as kaptein, in die openingswedstryd van vanjaar se kompetisie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-802-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-174-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-90-sent per vat.
# En, laastens: ’n Belangrike studie in The Lancet toon dat byna elke land se bevolking teen die einde van die eeu sal krimp, met toenames in enkele ontwikkelende lande, maar afnames in ryker lande. Teen 2050 sal driekwart van lande krimpende bevolkings aanteken, wat teen 2100 tot 97-persent van lande sal styg. Slegs ‘n paar lande sal na verwagting steeds stygende vrugbaarheidsyfers handhaaf. Die studie se vooruitskattings beklemtoon ook beduidende maatskaplike en ekonomiese gevolge. Die studie waarsku egter vooruitskatting-syfers word wel geraak deur databeperkings en onsekerhede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….