Nuus 14:00
BULLETIN 22 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula se hofdatum vir ‘n aansoek teen haar inhegtenisneming word vasgestel vir April
# Corruption Watch kritiseer die regstelsel se reaksie op hoëprofiel-korrupsiesake, insluitend die Steinhoff-skandaal
# En krieket: Die Indiese Premierliga skop vandag in Chennai af
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal op 9 April ‘n dringende aansoek voor die Hooggeregshof in Pretoria bring om ‘n hofbevel te bekom om haar inhegtenisneming op aanklagte van korrupsie te keer. Dit volg te midde van bespiegelings oor haar moontlike inhegtenisneming ná ‘n klopjag by haar huis in verband met omkopery toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Sy eis toegang tot alles wat verband hou met die saak, insluitend die polisiedossier, informantedossiere en die ondersoekdagboek. Haar regspan voer aan die staat misbruik die proses.
# Corruption Watch het teleurstelling uitgespreek oor Suid-Afrika se hantering van hoëprofiel-korrupsiesake ná die dood van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste. Die 62-jarige se selfdood volg nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor hom met 475-miljoen-rand beboet het vir die publisering van misleidende finansiële state. Corruption Watch se direkteur, Karam Singh, beweer geregtigheid het nie geskied nie, en beklemtoon mislukkings in die regstelsel. Hy het ook die noodsaaklikheid van die suksesvolle vervolging van Steinhoff se baasbreine beklemtoon.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het twee finale verbeurdverklaringsbevele toegestaan ter waarde van 33-miljoen-rand, ná beweerde korrupsie by Eskom se Kusile-kragstasie. Die bates, insluitend eiendomme, grond en voertuie, word gekoppel aan voormalige Eskom- werknemers en maatskappye, insluitend Tamukelo Air Vendor, wat tussen 2012 en 2018 by onwettige bedrywighede betrokke was. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Gautengse woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê dit is deel van die Batebeslagleggingseenheid se strategie om die opbreng van korrupsie te teiken en te verhaal:
# Krieket: Die Indiese Premierliga skop vanmiddag af wanneer die verdedigende kampioen, Chennai Super Kings, gasheer sal wees vir die Royal Challengers Bangalore. Die voormalige Protea-kaptein, Faf du Plessis, lei RCB, wat ook spog met sterspelers soos die voormalige Indiese kaptein, Virat Kohli, en die Australiërs Glenn Maxwell en Cameron Green. Daar is geen Suid-Afrikaners in CSK se groep nie. Die Protea-snelbouler Gerald Coetzee is een van die spelers wat die meeste verdien in vanjaar se IPL. Mumbai Indians het hom vir ‘n reuse 11,4-miljoen-rand opgeraap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-887-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-77-sent per vat.
# En, laastens: Die Wes-Kaapse regering gaan meer as 315-miljoen-rand gebruik in die 2024/25-mediumtermyn-bestedingsraamwerk om dwelmmisbruik te bekamp. Die party se provinsiale woordvoerder vir Maatskaplike Ontwikkeling, Conrad Poole, sê hulpbronne sal gebruik word vir voorkoming, ingryping en rehabilitasie. Hy sê dienste wat vroeg ingryp, sal 12-duisend-930 gebruikers bereik en drie-duisend-951 sal nasorg ontvang. Poole sê dienste vir binnepasiënte sal 360 gebruikers kan help met 498 gesubsidieerde beddens wat voorsien word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….