Nuus 13:00
BULLETIN 22 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering ontken berigte oor haar inhegtenisneming
# COPE sê Suid-Afrikaners gaan sedert 2009 gebuk onder ‘n regering waar ‘n voortslepende kultuur van korrupsie en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid heers
# En, krieket: Die IPL skop vandag in Chennai af
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het berigte oor haar inhegtenisneming ontken en die media beskuldig dat hulle betrokke raak by verhoor-deur-media-taktiek. Sy beweer die berigte spruit uit ongegronde gerugte wat deur die UDM-leier, Bantu Holomisa, versprei is. Mapisa-Nqakula se regspan het ook hofstukke ingedien waarin hulle die soek- en beslagleggings-operasie by haar huis uitdaag. Hulle wil ook volledige inligting hê van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoek. Sy bly op spesiale verlof van haar amptelike pligte terwyl sy haar voorberei om haar teen die korrupsiebewerings te verdedig.
Congress of the People sê intussen die land se twee presidente sedert 2009 het ‘n kultuur teweeg gebring van ingewortelde korrupsie, gebrek aan aanspreeklikheid en die mislukking van die staat se vermoë om betroubare dienste te lewer. Waarnemende hoofsekretaris Erick Mohlapamaswi sê 62-persent van die land se mense leef vandag in armoede en verlede jaar was daar 27-duisend moorde. Dit beteken burgers kan nie veilig voel en hulle menseregte geniet nie. Hy sê die Grondwet moet gerespekteer word omdat dit maatskaplike geregtigheid en gelykheid bevorder:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê hy is nie verbaas dat die eiendom-bedrogsaak van 64-miljoen-rand teen die munisipale bestuurders van die Tuinroete en Knysna, Monde Stratu en Sitembele Vatala, teruggetrek is nie. Die twee het na bewering tussen April en Desember 2019 versuim om sewe munisipale gebeurlikheidsbates aan die Ouditeur-generaal te verklaar wat voorheen op die ouditverslae van 2012 en 2017 verskyn het. Die Tuinroete-munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê die beskuldigings was van die begin af ongegrond:
# Krieket: Die Indiese Premierliga skop vanmiddag af wanneer die verdedigende kampioen, Chennai Super Kings, gasheer sal wees vir die Royal Challengers Bangalore. Die voormalige Protea-kaptein, Faf du Plessis, lei RCB, wat ook spog met sterspelers soos die voormalige Indiese kaptein, Virat Kohli, en die Australiërs Glenn Maxwell en Cameron Green. Daar is geen Suid-Afrikaners in CSK se groep nie. Die Protea-snelbouler Gerald Coetzee is een van die spelers wat die meeste verdien in vanjaar se IPL. Mumbai Indians het hom vir ‘n reuse 11,4-miljoen-rand opgeraap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-677-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-56-sent per vat.
# En, laastens: Skrywers word aangemoedig om die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika te help om sy leesversameling uit te berei terwyl Biblioteekweek tot ʼn einde kom. Die biblioteek in Pretoria-Sentraal is die tuiste van die enigste ontsurings-laboratorium in Afrika. Dit huisves ook van die land se belangrikste geskiedkundige dokumente en verwerk elke jaar meer as 28-duisend stukke nuwe letterkunde wat wettig gesertifiseer moet word. Die biblioteek se woordvoerder, Jolene Bhadais, sê mense moet meer geskiedkundige werke skenk vir toekomstige geslagte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….