Nuus 9:00
BULLETIN 22 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê die PetroSA/Gazprombank-transaksie sal nie die verkoop van staatsbates insluit nie
# Saftu sê daar is ‘n beperking op hoe menseregte in Suid-Afrika geniet kan word
# En die Britse minister van Buitelandse Sake beskuldig Israel dat hulle die lewering van hulp aan Gaza blokkeer
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê die vennootskap tussen PetroSA en die Russiese staatsbeheerde Gazprombank behels nié die verkoop van staatsbates nie. Die omstrede ooreenkoms van 3,7-miljard-rand bepaal dat Gazprombank die beleggingsvennoot word in die opknapping van die raffinadery in Mosselbaai in die Wes-Kaap waar gas in vloeistof omskep word. Mantashe sê Gazprombank het aangebied om in Petro SA te belê in ruil vir ‘n wins-aandeel. Hy sê dié model word verkies bó die verkoop van aandele in ‘n staatsmaatskappy.
# Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, Saftu, sê al word politieke en menseregte in die Grondwet gewaarborg, plaas die liberale aard van die land se demokrasie ‘n beperking op hoe ver dit geniet kan word. Dit was gister Menseregtedag. Saftu se woordvoerder, Mogoshadi Maserumule, sê in ʼn kapitalistiese ekonomie word basiese goedere en dienste as handelsware verkoop:
# Die Stad Tshwane sê hy veroordeel voorvalle van sabotasie deur ongenaakbare mense wat inwoners in die Rethabiseng-gebied van hul reg ontneem op skoon, drinkbare water. ‘n Klep tussen Bronkhorstspruit en Ekangala in Streek 7 is opsetlik beskadig, en het tot lae waterdruk gelei nadat daar weens instandhoudingswerk vir ‘n ruk nie water was nie. Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê om met die noodsaaklike waterinfrastruktuur te peuter, is onaanvaarbaar:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, beskuldig Israel dat hy aandring dat ʼn belangrike toegangsroete vir hulpverlening na Gaza gesluit word. Die Verenigde Nasies het na vyf maande van oorlog aangekondig ʼn kwart van die mense in die beleërde gebied is op die rand van hongersnood. Volgens Cameron kom hulp nie in Gaza uit nie weens Israel se lukrake weiering en lang klaringsprosedures. Israel se regeringswoordvoerder, Eylon Levy, ontken dit en sê die land plaas geen struikelblokke in die pad van hulp aan Gaza nie.
# Tennis: Die Fransman Gael Monfils het na die tweede ronde van die Miami Ope deurgedring. Die 37-jarige speler het in sy 12de jaar in die toernooi met Serwië se Dusan Lajovic afgereken met 7-6, 6-4. Kanada se Felix Auger-Aliassime het op sy beurt die Australiese kwalifiseerder Adam Walton in skoon stelle uitgeskakel. In die vroueafdeling het Anhelina Kalinina van Oekraïne van een stel agter ingehaal om uiteindelik oor die gewese nommer-eenspeler in die wêreld, Caroline Wozniacki van Denemarke te seëvier met 5-7, 7-5, 6-4. Nog twee van die tien beste spelers in die wêreld Maria Sakkari of Griekeland en Jelena Ostapenko van Letland is ook deur na die finale en derde ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-124-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….