Nuus 12:00
BULLETIN 20 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder waarsku oor die verdeling wat ‘n moontlike koalisie kan meebring na die verkiesing
# Die Kommunikasiewerkersvakbond se lede by die SAUK wil staak oor ‘n salarisgeskil
# En, dis vandag Internasionale Dag van Geluk
# Die politieke ontleder Daniel Silke sê die meeste peilings voorspel die ANC gaan minder as 50-persent stemme kry, maar die verdeling wat ‘n moontlike koalisieregering kan veroorsaak, sal die land maak of breek. Die verkiesing van 29 Mei vind vandag oor 70 dae plaas. Silke sê as die ANC rondom 40-persent kry en sy keuse van koalisievennoot verdelend is, kan die redding en herstel van die Suid-Afrikaanse staat ʼn nuwe dringendheid bereik:
# Die kommunikasiewerkersvakbond, die CWU, sê sy lede by die SAUK vergader vandag om nywerheidsoptrede te beplan. Die uitsaai- en elektroniese mediavakbond, BEMAWU, het ʼn verhoging van ses-persent aanvaar, maar die CWU dring aan op sy aanvanklike eis van nege-persent. Die vakbond se bedingingskoördineerder, Nathan Bowers, sê hulle is gewillig om die SAUK se aanbod te aanvaar indien dit terugdateer word tot 1 April 2023, maar die openbare uitsaaier het nog nie daarop reageer nie:
# ‘n Amerikaanse man sal in Junie gevonnis word nadat hy skuldig bevind is aan die moord op ‘n kollegestudent in 1980. Die 60-jarige Robert Plympton van Oregon is uiteindelik verbind met die dood van die 19-jarige Barbara Mae Tucker. Sy is ontvoer van die Mount Hood-gemeenskapskollege, seksueel aangerand en doodgeslaan. Die saak het gesloer todat DNS-ontleding Plympton uitgeken het as ‘n waarskynlike verdagte. Die polisie het hom dopgehou en kougom opgetel wat hy uitgespoeg het, wat daartoe gelei het dat hy as die moordenaar uitgeken is.
# Tennis: Die drie-malige Grand Slam-kampioen, Andy Murray van Skotland, speel vandag teen die Italianer Matteo Berrettini in die eerste ronde van die Miami Ope. Berrettini het in Januarie 2022 sy hoogste wêreldranglysposisie van sesde bereik, maar ‘n reeks beserings het hom laat terugsak na 125ste. Murray, wat in 2016 nommer een was, is nou 61ste. Die gewilde Japanse speler Kei Nishikori keer terug na die toer na ‘n beseringsonderbreking van sewe maande, en pak Sebastian Ofner van Oostenryk in die ronde van 128.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-995-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-156-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-74-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Dit is vandag Internasionale Dag van Geluk wat alle mense se geluk en welstand wil bevorder. Die Verenigde Nasies sê geluk is ʼn basiese menslike doelwit. Die dag fokus daarop om die betekenis van geluk in ag te neem wanneer mense doelwitte en strewes bepaal, en hulle aan te moedig om ʼn beter lewe te hê. Die VN het in 2015 die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bekend gestel om die weg te baan na ʼn gelukkiger en meer volhoubare wêreld. Dit wissel van die uitwissing van armoede tot die beskerming van die planeet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….