Nuus 09:00
BULLETIN 20 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sal vandag uitspraak lewer oor Zuma se jongste poging om Billy Downer te verwyder
# Die Kanadese Parlement besluit om nie meer wapens vir Israel te stuur nie
# En, rugby: Die sukkelende Crusaders kry nog ‘n terugslag met die skorsing van Owen Franks
# Die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Pietermaritzburg lewer vandag uitspraak in oudpresident Jacob Zuma se tweede poging om die hoofaanklaer in sy wapen-saak, Billy Downer, te verwyder. Die eerste was ‘n spesiale pleidooi wat deur die gewese verhoorregter, Piet Koen, verwerp is. Zuma het privaat vervolging ingestel teen Downer en die joernalis Karyn Maughan omdat hulle na bewering sy mediese rekords laat uitlek het. Die oudpresident beskuldig Downer van vooroordeel en glo hy sal nie ʼn regverdige verhoor kry as hy die staat se saak lei nie.
# Cosatu het die Nasionale Raad van Provinsies se aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp verwelkom. Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat teen die wetgewing gestem het wat met voorgestelde wysigings aanvaar is wat vereis dat die Nasionale Vergadering dit moet goedkeur. Een van die oogmerke van die wetsontwerp is om grond en eiendom in belang van die publiek te onteien. Matthew Parks van Cosatu sê president Cyril Ramaphosa moet die teenkanting van histeriese regsgesinde elemente ignoreer en die wetsontwerp onderteken:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê die verbeterde gekwalifiseerde ouditverslag en die geouditeerde finansiële state is beskikbaar vir openbare insae. Die burgemeester is gekritiseer vir die weerhouding van die ouditeur-generaal se verslag en versuim om die metro se finansiële state vir die 2022/2023 boekjaar aan die einde van Januarie aan die Johannesburgse Aandelebeurs te verstrek. Brink sê die beskikbaarstelling van die dokumente is ‘n bewys van goeie fiskale bestuur:
# Kanada gaan toekomstige wapenuitvoere na Israel opskort ná die land se Parlement ‘n nie-bindende mosie oor die kwessie aanvaar het. Die mosie is deel van ‘n groter voorstel wat ‘n beroep op die internasionale gemeenskap doen om te werk aan ‘n twee-staat-oplossing en ‘n einde te bring aan die konflik tussen Israel en Palestina. ‘n Drukgroep, die Sentrum vir Israeliese en Joodse Aangeleenthede, sê die uitslag is op ‘n dwaalspoor, misleidend en oneerlik. Die Kanadese minister van Buitelandse Sake, Mélanie Joly, sê dit sal ook pogings verskerp om onwettige wapenhandel, insluitend na Hamas, te keer.
# Rugby: Die Crusaders se aaklige seisoen het pas slegter geword met die nuus dat die veteraan All Black-stut, Owen Franks, die verdedigende kampioene se volgende twee Super Rugby-wedstryde teen die Blues en die Chiefs sal misloop. Hy is twee weke lank geskors vir gevaarlike kopkontak met die Hurricanes se voorspeler Justin Sangster verlede week. Die Crusaders, wat die kompetisie sewe keer agtereenvolgend gewen het, kon die seisoen onder die nuwe afrigter Rob Penney nog niks wen nie. Hulle speel reeds sonder die beseerde Scott Barrett, Will Jordan en Leigh Halfpenny.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-445-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….