Nuus 08:00
BULLETIN 20 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE is die jongste party wat aandring op die bedanking van die Speaker van die Nasionale Vergadering
# Die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar die Onteieningswetsontwerp
# En, die Amerikaanse Hooggeregshof laat Texas toe om ’n omstrede immigrasiewet toe te pas
# Druk neem toe dat die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedank. Die Congress of the People is die jongste party wat daarop aandring. Die Valke het gister ‘n klopjag op haar huis in Johannesburg uitgevoer. Dit volg ná ʼn hoëvlak-ondersoek ná bewerings dat Mapisa-Nqakula tydens haar termyn as minister van Verdediging ‘n gunsloon van meer as twee-miljoen-rand by ʼn militêre kontrakteur aangevra en ontvang het. ʼn Cope-woordvoerder, Erick Mohlapamaswi, sê die jongste ontwikkeling beteken die saak het ʼn ernstige punt bereik:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Onteieningswetsontwerp met voorgestelde wysigings aanvaar. Dit beteken die wetgewing word weer na die Nasionale Vergadering verwys sodat die veranderinge goedgekeur kan word. Al die provinsies, behalwe die DA-beheerde Wes-Kaap, het die wetsontwerp ondersteun. Dit wil onder meer voorsiening maak vir die onteiening van eiendom vir ʼn openbare doel of in openbare belang. Die DA se afgevaardigde by die Nasionale Raad van Provinsies, Tim Brauteseth, sê die wetsontwerp is ongrondwetlik:
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, sê die Stad Johannesburg het ernstige ingryping en befondsing nodig vir sy program om die waterinfrastruktuur op te knap. Johannesburg Water het inwoners gewaarsku om water spaarsaam te gebruik en vlak een-waterbeperkings toe te pas omdat die stelsel onder groot druk is. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê hulle staan Johannesburg Water by in sommige van sy belangrike infrastruktuurprojekte:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het Texas die groen lig gegee om ‘n omstrede immigrasiewet bekend as SB4 toe te pas. Die laat staatsowerhede toe om mense wat die Amerikaans-Meksikaanse grens onwettig oorsteek te arresteer, prosesseer en tronk toe te stuur. Dit maak inbreuk op die ‘n rol wat lank reeds vir die federale owerhede gereserveer is. Die Withuis het die hof sterk gekritiseer oor wat hy noem die skadelike en ongrondwetlike wet wat in nou werking tree. Die Texas se prokureur-generaal, Ken Paxton, het die Hooggeregshof se beslissing as ‘n reuse-oorwinning teen die Biden-bewind beskryf.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen Simona Halep het ná haar skorsing weens opkikkers teen Paula Badosa in die Miami Ope verloor. Die Roemeen het die eerste stel gewen maar die Spanjaard het uiteindelik met 1-6, 6-4 en 6-3 geseëvier. Die 32-jarige Halep het die eerste keer in 18 maande gespeel nadat haar skorsing van vier jaar tot nege maande verminder is. In die ander wedstryde het Dane Caroline Wozniacki Frankryk se Clara Burel met 6-1 en 6-4 verslaan, terwyl Diana Shnaider van Rusland die Amerikaner Venus Williams met 6-3 en 6-3 afgeransel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-243-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….