Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wes-Kaapse regering sê hy het ‘n oorkoepelende klimaatsveranderingsplan met ‘n visie om teen 2050 koolstofvry en voorbereid te wees op enige klimaatsverandering. Die provinsie het verlede jaar in slegs twee oorstromings vloedskade van 3,5-miljard rand gely, terwyl die kusgebied onder hewige storms deurgeloop het en hy weens die veldbrandseisoen sy hulpbronne uitgeput het. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê hulle werk saam met die privaat sektor om die uitdaging van klimaatsverandering te pak.
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê daar is tans 14 sonpaneel-projekte op dakke by die instelling aangebring om omgewings- en finansiële volhoubaarheid te verseker. Dis deel van Wits se volhoubaarheidstrategie wat in Augustus aanvaar is om die universiteit teen 2050 koolstofvry te maak. Jason Huang van die universiteit sê sonkrag-installasies van sowat 30-miljoen-rand bestaan uit ‘n mengsel van fotovoltaïese stelsels en warmwaterstelsels reg oor kampusse. Huang sê dit verteenwoordig een-duisend-700 kilowatt geïnstalleerde vermoë.
# En, omgewingsbewaarders beplan om Marion-eiland se muisbevolking van meer as ‘n miljoen in 2027 uit te roei. Muisgetalle op die Suid-Afrikaanse gebied naby Antarktika het dramaties toegeneem nadat klimaatsverandering temperature laat styg het. Die muise het ongeveer 200 jaar gelede op robjagskepe op die eiland beland. Hulle vier nou fees op seevoëls en veroorsaak reuseskade in die spesiale natuurreservaat met sy unieke bioverskeidenheid. Omgewingsbewaarders beplan om 550-ton rotgif met ses helikopters op die eiland te stort, wat nie die grond, waterbronne of seevoëls sal benadeel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….