Nuus 06:00
BULLETIN 19 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voorval waarby Nandipha Magudumana betrokke was, sal deur Korrektiewe Dienste ondersoek word
# ‘n Top-diplomaat van die Europese Unie beweer Israel gebruik hongersnood as ‘n oorlogswapen
# En rugby: Die Springbok-vroue het in Spanje aangekom voor hul eerste toets van die jaar
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê hy ondersoek tans bewerings van ‘n aanranding deur ‘n ander gevangene op Nandipha Magudumana. Die voorval het volgens berigte Saterdag plaasgevind tydens ‘n gebedsbyeenkoms in ‘n aparte sel by die Bizzah Makhate Korrektiewe Sentrum in Kroonstad in die Vrystaat. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê gesondheidsorgbeamptes kon tydens ‘n ondersoek geen sigbare tekens van beserings vind nie. Volgens Nxumalo bly die departement verbind tot die veiligheid van gevangenes en bied die versekering die saak word deeglik ondersoek:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste sal die week ‘n regsmening ontvang oor die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se betrokkenheid by die proses om ‘n nuwe Adjunk- Openbare Beskermer te kies. Die komitee het onderhoude gevoer met sewe kandidate. Een van die kandidate verteenwoordig Mkhwebane in ‘n pro bono-regsaangeleentheid, terwyl sy ‘n ander as ‘n werknemer gedissiplineer het. Die Parlement se regspan is oor ‘n mening genader.
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê Rand Water en die Umngeni-Uthukela-waterraad is ontplooi om onderskeidelik die sukkelende munisipaliteite in Gauteng en KwaZulu-Natal by te staan. Daar is steeds waterprobleme in sekere dele van Gauteng en die inwoners in Durban staar ook al weke lank ernstige watertekorte in die gesig. Mahlobo het gister by die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis in Johannesburg, aan die media gesê die gemeenskappe wat watertekorte ondervind se woede is geregverdig:
# Die Departement van Onderwys in die Wes-Kaap moedig ouers aan om voor die sperdatum van 12 April, aansoek te doen vir graad een- en agt-toelatings vir die 2025-skooljaar. Sedert die aansoekvenster op 11 Maart geopen het, het die departement reeds 45-duisend-950 aansoeke ontvang. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, het ouers herinner om die meer as 120 opskiet-kantore te besoek vir persoonlike hulp met hul aansoeke:
# Die buitelandse beleidshoof van die Europese Unie, Josep Borrell, beskuldig Israel dat hy verhongering as ‘n oorlogswapen gebruik en hongersnood in Gaza uitlok. Borrell sê Gaza is nie meer net op die rand van hongersnood nie, maar reeds in ‘n staat van hongersnood wat duisende mense raak. Hy sê dit word direk veroorsaak deur Israel, wat keer dat humanitêre steun Gaza bereik. Borrell het gepraat op die openingsplegtigheid van die Europese Humanitêre Forum in Brussel. Hy beweer honderde vragmotors wag by die grens, maar word deur Israel gekeer om Gaza binne te gaan.
# Rugby: Die Springbok-vroue het in Spanje aangekom voor hulle eerste toetswedstryd van die jaar. Hulle sal gemotiveerd wees na waardevolle lesse tydens hulle oefensessies met Skotland en Wallis. Die Bokke speel Saterdag ‘n toets teen Spanje in Valladolid en ‘n week later pak hulle die Verenigde State op Twickenham in Londen. Die wedstryde sal nog ‘n belangrike stap wees in die span se voorbereiding om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbeker in Engeland.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-60-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….